1
Uit Betlehem na Moab toe en terug
1In die tyd van die leiers was daar op 'n keer hongersnood in die land, en 'n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om 'n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.
8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.”
Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”
11Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by 'n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s'n: die Here het teen my gedraai.”
14Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”
16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”
18Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. 19Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”
20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara#Mara beteken “bitter”., want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het 'n ramp oor my gebring.”
22So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.
Loading reference in secondary version...