YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 4

4
God sit op die troon
1Hierna het ek, Johannes, in die hemel 'n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van 'n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.”
2Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 3Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag. 4Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone. 5Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. 6Voor die troon was dit soos 'n spieëlgladde see, helder soos kristal.
Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter. 7Die eerste lewende wese het soos 'n leeu gelyk en die tweede soos 'n bul; die derde het 'n gesig soos dié van 'n mens gehad en die vierde het gelyk soos 'n arend wat vlieg. 8Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê:
“Heilig, heilig, heilig
is die Here God, die Almagtige,
Hy wat was en wat is en wat kom.”
9Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê:
11“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het;
deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”

Currently Selected:

DIE OPENBARING 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy