YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 18

18
Die val van Babilon
1Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig. 2Hy het met 'n sterk stem uitgeroep:
“Geval, geval het die grote Babilon.
Dit het die blyplek
van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere,
3omdat al die nasies
van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het.
Die konings van die aarde
het onsedelik met haar verkeer,
en die sakemanne van die aarde het ryk geword
uit haar grenselose weelde.”
4Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê:
“Gaan uit haar uit, my volk,
sodat julle nie aan haar sondes deel kry
en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.
5Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop,
en God het haar ongeregtighede onthou.
6Behandel haar
soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het.
In die beker waarin sy vir julle ingeskink het,
moet julle vir haar
twee keer soveel inskink.
7In die mate waarin sy gepronk
en in wellus gelewe het,
in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen.
Sy sê by haarself:
‘Ek sit as koningin op my troon.
Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.’
8Daarom sal al die plae haar op een dag tref:
pes, droefheid en hongersnood.
Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”
Die konings huil oor haar val
9Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word. 10Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!
Die groot stad, Babilon, die sterk stad!
In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!”
Die sakemanne huil oor haar val
11Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie: 12goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, 13kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense.
14Daar sal gesê word:
“Hierdie produkte
wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen.
Al die weelde en skittering
is nou vir jou verlore
en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.”
15Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm 16en sê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!
Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi,
en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!
17In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”
Die seemanne huil oor haar val
Al die skeepskapteins en almal wat êrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan 18en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesê: “Watter stad kon met dié groot stad vergelyk word?”
19Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!
Die groot stad!
Almal wat skepe op see het,
het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!”
20Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete!
God het die oordeel
waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek.
Die stad se val is permanent
21Toe het 'n sterk engel 'n groot klip, so groot soos 'n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesê:
“So, met geweld, sal Babilon,
die groot stad,
neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie.
22Die musiek van siterspelers
en sangers,
van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie.
Geen ambagsman
van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie.
Die gedreun van 'n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie.
23Die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie.
Die stemme van bruid
en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie.
Jou sakemanne was die heersers van die aarde,
en deur jou bedrog
is al die nasies mislei.”
24Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is.

Currently Selected:

DIE OPENBARING 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy