YouVersion Logo
Search Icon

DIE OPENBARING 1

1
Voorwoord
1Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. 2Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.
3Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.
Aanhef van die brief
4Van Johannes.
Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.
Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Tema van die boek
7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.
Ja, dit is seker!
8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Jesus se verskyning aan Johannes
9Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. 10Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor 11sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
12Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. 14Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. 15Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. 16In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.
17Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. 19Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. 20En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.”

Currently Selected:

DIE OPENBARING 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy