YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 38

38
My sonde kwel my
1'n Psalm van Dawid. 'n Herinnering.
2Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here,
en my langer in u gramskap tugtig nie.
3U pyle het my getref,
u hand lê swaar op my.
4Deur u toorn is daar nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie,
deur my sonde is daar nie meer 'n heel plek aan my lyf nie.
5Ja, my ongeregtighede het my oorweldig
soos 'n las wat vir my te swaar is.
6My wonde stink en sweer,
en dít deur my eie dwaasheid.
7Ek is krom en inmekaar getrek,
ek loop die hele dag en treur,
8want my lyf brand van die koors
en daar is nie meer 'n gesonde plek aan my liggaam nie.
9Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan,
my hart jaag en ek brul van die pyn.
10U weet waarna ek smag, Here, my gesmeek is vir U geen geheim nie.
11My hart jaag, my krag het ingegee,
ek kan nie eers meer sien nie.
12My siekte hou my familie en my vriende ver van my af,
en my bure kom nie naby my nie.
13Dié wat my lewe soek, stel vir my strikke,
dié wat daarop uit is om my kwaad aan te doen,
praat al klaar van my ondergang;
die hele dag deur dink hulle vals beskuldigings teen my uit.
14Maar ek hou my doof, ek hoor niks,
ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie.
15Ek het geword soos 'n man wat niks hoor nie
en wat niks het om te antwoord nie.
16Ek vertrou op U, Here,
U sal antwoord, Here my God.
17Ek vra U:
“Moenie dat hulle hulle verlustig in my leed
en hulle groot hou as die lyding vir my te veel word nie.”
18Ek kan dit byna nie meer uithou nie,
ek is nooit sonder pyn nie.
19Ek bely my ongeregtigheid,
my sonde kwel my.
20My vyande is vol lewenskrag
en daar is so baie wat my sonder rede haat,
21wat my kwaad vir goed vergeld
en teen my is omdat ek die goeie najaag.
22Moet my tog nie verlaat nie, Here,
my God, moenie ver van my af bly nie!
23Maak tog gou om my te help,
Here, my Redder!

Currently Selected:

PSALMS 38: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy