YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 7

7
1Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun,
hou by wat ek jou voorskryf,
2maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe,
maak wat ek jou leer jou eie,
so eie soos die appel van jou oog.
3Sorg dat jy dit altyd onthou,
maak dit 'n deel van jou lewe.
4Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,”
maak die insig familie van jou.
5Dit sal jou weghou van die slegte vrou af,
die vrou met die verleidelike praatjies.
6Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit
7en ek sien mense wat nog baie moet leer;
ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman
8wat oor die straathoek stap
en die pad na 'n vrou se huis toe kies.
9Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe.
10Daar kom die vrou hom tegemoet;
sy dra die klere van 'n prostituut,
sy is 'n vrou met listige planne.
11Sy is luidrugtig en uitdagend,
haar huis is te nou vir haar;
12sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine,
sy staan op loer by elke hoek.
13Sy gryp die jongman en soen hom,
onbeskaamd sê sy vir hom:
14“Ek moes maaltydoffers bring
en ek het vandag juis my geloftes betaal.
15Daarom het ek jou kom soek,
ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.
16Ek het 'n deken oor my bed gegooi,
'n deken van bont Egiptiese linne;
17ek het my bed besprinkel
met mirre, aalwyn en kaneel.
18Kom ons drink van die liefde tot die môre toe,
ons gee ons oor aan die liefdeslus.
19My man is nie tuis nie,
hy is op 'n lang reis;
20hy is weg met 'n vol beurs
en kom eers met volmaan terug.”
21So laat sy die jongman swig vir haar listigheid,
so verlei sy hom met haar gladde tong.
22Hy loop sonder weerstand agter haar aan
soos 'n bees op pad slagpale toe.
Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang
23en netnou kloof 'n pyl sy lewer.
Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg,
so is hy daarmee heen voor hy dit weet.
24Luister na my, my seun,
slaan ag op wat ek sê.
25Moet jou nie met so 'n vrou ophou nie,
moenie haar pad loop nie.
26Sy het die val van baie op haar kerfstok,
sy het al sterk manne laat ondergaan.
27In haar huis is jy op pad na die doderyk toe,
by haar is jy op pad na jou dood toe.

Currently Selected:

SPREUKE 7: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy