YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 29

29
1'n Man wat hom bly verset teen teregwysings,
kom skielik tot 'n val en staan nie weer op nie.
2'n Volk juig as regverdige mense die mag kry;
'n volk sug as 'n goddelose mens regeer.
3'n Man wat wysheid hoog aanslaan, maak sy vader gelukkig;
een wat hom met prostitute ophou, vermors sy besittings.
4'n Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig;
een wat net belastings oplê, ruïneer 'n land.
5'n Man wat 'n ander vlei,
is besig om hom in 'n strik te laat loop.
6'n Mens se sonde is sy grootste gevaar.
Iemand wat reg doen, kan vrolik sing.
7'n Regverdige mens is besorg oor die reg van arm mense,
'n goddelose mens het nie begrip vir dié besorgdheid nie.
8Ligsinnige mense bring 'n stad in oproer;
wyse mense kalmeer die gemoedere.
9Wanneer 'n wyse man 'n saak maak teen 'n dwaas,
raak die dwaas opgewonde en beledigend,
en kom daar nie vrede nie.
10Moordenaars haat 'n onskuldige mens;
mense wat reg lewe, probeer sy lewe red.
11'n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede;
'n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.
12'n Regeerder wat hom aan leuens steur,
het naderhand net goddeloses in sy diens.
13'n Arm mens en sy verdrukker het een ding gemeenskaplik:
die Here hou hulle altwee in die lewe.
14As 'n koning reg aan arm mense laat geskied,
sal hy lank regeer.
15'n Pak slae en 'n teregwysing bring wysheid;
'n kind wat sonder dissipline grootword, steek sy moeder in die skande.
16As goddelose mense regeer, regeer die sonde ook,
maar die mense wat die wil van die Here doen,
sal sien hoe die goddeloses ondergaan.
17Gee jou seun 'n goeie opvoeding
en jy sal gerus wees oor hom;
hy sal jou baie vreugde verskaf.
18Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder 'n volk;
dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.
19Met woorde alleen laat 'n slaaf hom nie waarsku nie;
hy verstaan wat jy sê, maar hy reageer nie.
20Jy sien self: vir die man wat praat sonder om eers te dink,
is daar minder hoop as vir 'n dwaas.
21As jy 'n slaaf van kleins af bederf,
is hy rebels as hy groot is.
22'n Opvlieënde mens veroorsaak rusie;
iemand wat kort van draad is, doen sonde op sonde.
23Hoogmoed bring 'n mens tot 'n val;
nederigheid bring eer.
24Iemand wat gesteelde goed ontvang, gee nie om vir sy lewe nie;
hy weet die vloek sal hom tref, maar hy wil nie praat nie.
25As jy vir mense bang is, kan jy in 'n strik beland,
maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.
26Almal soek die guns van die regeerder,
maar dit is die Here wat aan 'n mens reg laat geskied.
27Mense wat die wil van die Here doen, het 'n afsku in iemand wat onwys optree;
'n goddelose mens het 'n afsku in dié wat reg lewe.

Currently Selected:

SPREUKE 29: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy