YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 19

19
1Liewer arm wees en opreg lewe
as 'n leuenaar en boonop 'n dwaas.
2Ywer sonder kennis deug nie;
oorhaastigheid bring foute.
3Sy eie dwaasheid bring 'n mens op die verkeerde pad
en dan is hy kwaad vir die Here.
4Rykdom vergader baie vriende;
'n arm mens word van sy enigste vriend vervreem.
5'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;
wie leuens kwytraak, kom nie vry nie.
6Almal soek die goedgesindheid van 'n man met mag,
elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel.
7As 'n arm man se broers almal niks met hom te doen wil hê nie,
bly sy vriende ook van hom af weg,
en om hulle te soebat, help nie.
8Wie homself liefhet, sorg dat hy wysheid verwerf;
hy stel prys op insig sodat hy voorspoed kan geniet.
9'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;
wie leuens kwytraak, gaan tot niet.
10Weelde pas nie by 'n dwaas nie,
nog minder behoort 'n slaaf oor mense van aansien te regeer.
11'n Verstandige mens beteuel sy humeur
en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.
12'n Koning se woede is soos die brul van 'n leeu,
en sy goedgesindheid soos dou op die gras.
13'n Dwase seun is sy vader se ondergang;
die gekyf van 'n vrou is soos die gedrup uit 'n dak wat lek.
14Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf,
maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here.
15Luiheid laat 'n mens diep slaap;
'n lui mens ly honger.
16Wie prys stel op die gebod van die Here, stel prys op sy eie lewe;
wie nie omgee hoe hy lewe nie, sterf.
17Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here,
en Hy sal hom ten volle vergoed.
18Behandel jou seun streng, dan is daar hoop,
maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie.
19'n Opvlieënde mens boet vir wat hy doen,
maar as jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen.
20Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word,
sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.
21Al maak mense hoeveel planne,
wat die Here besluit, staan vas.
22'n Mens wy sy lewe aan wat hy begeer,
maar dit is beter om arm te bly as om te bedrieg.
23Wie die Here dien, se lewe is veilig;
so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref hom nie.
24'n Luiaard steek sy hand in die skottel,
maar bring dit nie terug na sy mond toe nie.
25As jy 'n ligsinnige mens klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit;
as jy 'n verstandige mens straf,
word hy nog verstandiger.
26'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot,
is skaamteloos en veragtelik.
27My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word
as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie.
28'n Kwaadwillige getuie maak 'n bespotting van die reg;
wat goddelose mense sê, bring onreg.
29Ligsinnige mense moet straf te wagte wees,
en dwase moet slae verwag.

Currently Selected:

SPREUKE 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy