YouVersion Logo
Search Icon

FILIPPENSE 2

2
1Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – 2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.
Ligdraers in die wêreld
12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
14Doen alles sonder kla of teëpraat. 15Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. 17Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. 18Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.
Die sending van Timoteus en Epafroditos
19Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. 20Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. 21Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. 22Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos 'n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. 23Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop. 24En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom.
25Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 26Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 27Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 28Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 29Ontvang hom met oop arms as 'n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 30want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.

Currently Selected:

FILIPPENSE 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy