YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 6

6
Voorskrifte vir die nasireër
1Die Here het aan Moses opdrag gegee 2om met die Israeliete te praat en vir hulle te sê:
“Wanneer iemand, 'n man of 'n vrou, 'n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy, 3moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie. 4Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of -doppe nie.
5“Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is.
6“Gedurende die tyd van sy wyding aan die Here mag hy nie naby 'n lyk kom nie. 7Selfs as sy pa of ma, broer of suster sterf, mag hy hom nie verontreinig deur aan hulle te raak nie, want sy hare is die teken van sy wyding aan God. 8Solank sy nasireërgelofte van krag is, is hy afgesonder vir die Here. 9Maar as hy hom verontreinig deur aan iemand te raak wat onverwags in sy omgewing te sterwe kom, moet hy sy hare afskeer op die dag waarop hy rein verklaar word; op die sewende dag moet hy sy hare afskeer. 10Op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring, by die ingang van die tent van ontmoeting. 11Die priester moet dan een duif as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer voorberei, en daarmee vir die nasireër versoening doen vir die oortreding wat hy onbewus begaan het deur aan die lyk te raak. Op dieselfde dag moet hy begin om sy hare te laat groei. 12Hy moet hom opnuut as nasireër aan die Here wy en 'n jaaroud lam as skuldoffer bring. Die vorige dae moet nie gereken word nie, omdat hy sy nasireërskap verontreinig het.
13“Die voorskrif vir die nasireër wanneer die tyd van sy wyding verby is, is soos volg: Hy moet na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan 14en sy offergawe aan die Here bring. Dit moet bestaan uit 'n jaaroud lam as brandoffer, 'n jaaroud ooilam as sondeoffer en 'n ram as maaltydoffer, aldrie sonder liggaamsgebrek; 15verder 'n mandjie ongesuurde brood van fynmeel, ringbrood met olie geknie, en ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, met die bybehorende graanoffer en drankoffers. 16Die priester moet die lammers aan die Here offer as die nasireër se sondeoffer en brandoffer. 17Die priester moet die ram, saam met die ongesuurde brood in die mandjie, as maaltydoffer vir die Here aanbied, en ook die nasireër se graan- en drankoffer offer. 18By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer en dit vat en in die vuur saam met die maaltydoffer verbrand.
19“Nadat die nasireër sy hare afgeskeer het, moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit, saam met 'n ongesuurde ringbrood uit die mandjie en 'n ongesuurde roosterkoek, op die nasireër se hande sit 20en dit as 'n beweegoffer aan die Here wy. Hierdie gawes is gewy en kom die priester toe, saam met die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is. Daarna is die persoon vry om wyn te drink.
21“Dit is dan die voorskrif vir 'n nasireër wat met die oog op sy nasireërskap 'n offer aan die Here beloof het, afgesien van wat hy nog vrywillig wil bring. Hy moet noukeurig handel volgens die gelofte wat hy afgelê het. Dit is die voorskrif vir die nasireër.”
Die priesterlike seën
22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën:
24“Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

Currently Selected:

NUMERI 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy