YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 17

17
Die verheerliking op die berg
(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)
1Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle alleen was. 2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.
4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
5Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. 7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”
8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.
Die koms van Elia
(Mark. 9:9-13)
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”
10Die dissipels vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?”
11“Elia kom wel om alles weer reg te maak,” antwoord Hy, 12“maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou. So sal ook die Seun van die mens deur hulle mishandel word.”
13Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle van Johannes die Doper gepraat het.
Jesus maak 'n seun gesond
(Mark. 9:14-29; Luk. 9:37-43)
14Toe hulle weer by die mense kom, het 'n man voor Hom kom kniel 15en gesê: “Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water. 16Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.”
17“Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier vir My!”
18Jesus het die bose gees skerp aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword.
19Die dissipels het toe alleen na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?”
20“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan
(Mark. 9:30-32; Luk. 9:43-45)
22Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, 23en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”
Hieroor het hulle baie bedroef geword.
Die tempelbelasting
24By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?”
25“Ja, natuurlik,” antwoord hy.
Toe hy in die huis kom, was Jesus hom voor met die vraag: “Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?”
26Toe Petrus antwoord: “Van ander mense,” sê Jesus vir hom: “Dan is die seuns mos vrygestel. 27Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy 'n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”

Currently Selected:

MATTEUS 17: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy