YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 1

1
Die geslagsregister van Jesus Christus
(Luk. 3:23-38)
1Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:
2Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers; 3Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram; 4Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon; 5Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; 6Isai was die vader van koning Dawid.
Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija; 7Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa; 8Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia; 9Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia; 10Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia; 11Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe.
12En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel; 13Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor; 14Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud; 15Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob; 16Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.
17Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.
Die geboorte van Jesus Christus
(Luk. 2:1-7)
18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.
Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
23“Die maagd sal swanger word
en 'n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.
24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Currently Selected:

MATTEUS 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy