YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 13

13
Bekeer julle
1Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag. 2Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? 3Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom! 4Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem? 5Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.”
Gelykenis van die onvrugbare vyeboom
6Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, 7sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ 8Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. 9Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”
Jesus genees 'n gebreklike vrou op die sabbatdag
10Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. 11Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”
13Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.
14Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”
15Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? 16En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”
17Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.
Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Matt. 13:31-33; Mark. 4:30-32)
18Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk? 19Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.”
20Verder het Hy gesê: “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk? 21Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”
Die smal deur
(Matt. 7:13-14,21-23)
22Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer. 23Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min?”
24Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
25“As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ 26Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.’ 27Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’
28“Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
29“Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God. 30Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.”
Klag oor Jerusalem
(Matt. 23:37-39)
31Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”
32Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’ 33In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.
34“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! ”

Currently Selected:

LUKAS 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy