5
Sou U ons dan bly vergeet?
1Slaan tog ag op wat oor ons gekom het, Here,
kyk tog en sien self hoe ons verneder is.
2Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee,
ons huise aan uitlanders.
3Ons het weeskinders geword, daar is nie vaders nie,
ons moeders is soos weduwees.
4Ons moet ons eie drinkwater koop,
vir ons eie hout moet ons betaal.
5Ons word gedryf deur ons oorheersers,
ons is uitgeput,
ons word geen rus gegun nie.
6Ons het ons hande uitgesteek na Egipte en na Assirië
om by hulle kos te bedel.
7Ons vaders het gesondig,
maar hulle is nie meer daar nie,
ons word gestraf vir hulle sondes.
8Ondergeskiktes heers nou oor ons,
en niemand kan ons uit hulle mag red nie.
9Met lewensgevaar moet ons vir ons gaan kos haal,
want in die veld word ons doodgemaak.
10Ons vel verskrompel soos iets in 'n oond
vanweë die verterende honger.
11Vrouens is in Sion verkrag,
en jong meisies in die stede van Juda.
12Leiers is gevat en opgehang,
oumense word met minagting behandel.
13Jongmanne word gedwing om maalwerk te doen,
jong seuns struikel onder vragte hout.
14Die oumense sit nie meer in die poorte van die stad nie
en die jongmanne maak nie meer daar musiek nie.
15Vrolikheid het uit ons lewe verdwyn,
ons koordanse het plek gemaak vir rou.
16Ons het ons aansien verloor,
daar het ellende oor ons gekom,
want ons het sonde gedoen!
17Dit is die rede vir ons droefheid,
vir die swart kringe om ons oë:
18Sionsberg lê so verlate,
die jakkalse loop daar rond.
19Maar Ú, Here, U heers vir altyd,
u troon staan vas van geslag tot geslag.
20Waarom sou U ons dan bly vergeet,
ons vir altyd verlaat?
21Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees,
gee ons weer die bestaan van vroeër.
22Of het U ons heeltemal verwerp?
Is u toorn oor ons so groot?
Loading reference in secondary version...