YouVersion Logo
Search Icon

JOB 19

19
Job: Ek sal vir God sien
1Toe het Job weer gepraat:
2“Hoe lank gaan julle my bly pynig
en my met woorde striem?
3Dit is die soveelste keer dat julle my beledig
en my sleg behandel sonder om julle te skaam.
4As ek werklik gedwaal het,
is my dwaling my eie saak.
5Maar as julle julle teen my aanstel
en my veroordeel oor die smaad wat oor my gekom het,
6weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen
en my in sy net gevange hou.
7Ek skreeu: ‘Geweld!’ maar kry geen reaksie nie,
ek roep om hulp maar daar word nie aan my reg gedoen nie.
8Hy het my pad versper, ek kan nie verder nie.
Hy het die donker laat toesak oor my pad.
9Hy het my eer van my af weggestroop,
my aansien van my af weggeneem.
10Aan alle kante breek Hy my af, sodat ek moet sterf,
Hy laat my hoop verdwyn soos 'n boom wat uitgeruk word.
11Hy laat sy woede teen my losbreek,
Hy behandel my as vyand.
12Sy magte het saam op my afgestorm,
hulle beleër my en omsingel my huis.
13My broers het Hy van my verwyder,
my bloedverwante is van my vervreem,
14my familie het my verlaat,
my bloedverwante het my vergeet.
15My huismense en my slavinne beskou my as 'n vreemdeling,
ek het vir hulle soos 'n uitlander geword.
16Ek roep my slaaf, maar hy antwoord my nie,
selfs al smeek ek hom.
17My asem walg my vrou,
ek ruik sleg vir my eie broers.
18Selfs kindertjies minag my,
as ek wil opstaan, spot hulle my.
19Al my vertrouelinge verafsku my,
dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.
20Ek is net vel en been,
al my tande het uitgeval.
21Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer!
Die hand van God het my swaar getref.
22Waarom vervolg ook julle my soos God dit doen?
Kry julle nie genoeg nie?
23Mag my woorde tog opgeskryf word,
mag dit ingegraveer word op 'n monument
24met 'n ysterpen en lood,
vir altyd in 'n rots uitgekap.
25Ek weet dat my Losser leef,
uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!
26Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het,
sal ek nog lewe en God sien.
27Ek sal Hóm sien,
met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.
Ek smag daarna met my hele lewe.
28As julle dan sê julle wil my vervolg,
die wortel van die kwaad by my opspoor,
29moet júlle die swaard vrees,
want in sy toorn straf God die sonde met die swaard.
Dan sal julle weet dat daar 'n regter is.”

Currently Selected:

JOB 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy