YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 5

5
Die oorwinningslied van Debora en Barak
1Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam gesing:
2“Julle moet die Here prys,
want leiers het opgetree in Israel,
die volk het hulle aangemeld vir die oorlog.
3Luister, konings,
gee aandag, regeerders!
Ek sing tot eer van die Here,
ek prys die Here die God van Israel met my lied:
4Toe U uit Seïr gekom het, Here,
toe U uit die veld van Edom opgetrek het,
het die aarde gebewe,
het die hemel reën gegee:
die wolke het strome water gegee.
5Die berge het weggesmelt voor die Here,
voor Hom uit Sinai,
voor die Here die God van Israel.
6“In die dae van Samgar seun van Anat,
in die dae van Jael was die hoofpaaie stil,
reisigers het ompaaie gebruik.
7Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn
en agteruitgegaan
totdat ek, Debora, na vore gekom het,
totdat 'n moeder in Israel na vore gekom het.
8Toe die volk nuwe gode vir hulle gekies het,
het daar oorlog gekom,
maar nie een uit Israel se duisende soldate
het die wapen opgeneem nie.
9“Ek staan by die leiers van Israel,
by dié wat hulle vrywillig aangemeld het.
Julle moet die Here prys,
10julle wat op bruin donkies ry,
julle wat op mooi saalkleedjies sit,
julle wat op reis is,
julle moet dit alles vertel!
11“Tussen die drinkbakke praat hulle daaroor,
besing hulle die oorwinning wat die Here behaal het,
sy oorwinning vir die boere van Israel.
“Die volk van die Here kom bymekaar by die stadspoorte,
hulle sing:
12‘Kom, Debora, kom,
kom, kom sing 'n lied!
Maak klaar, Barak seun van Abinoam,
kom maak vir jou krygsgevangenes!’
13“Dié van my volk wat oorgebly het,
het bymekaargekom by die leiers,
die volk van die Here het na my toe gekom,
al die dapper vegters:
14party was van Efraim, selfs ver uit Amalek uit,
saam met hulle Benjamin, almal uit jou volk,
party was van Makir, sy leiers het gekom,
en uit Sebulon dié wat die heersersepter dra,
15die leiers uit Issaskar was by Debora.
Issaskar was soos Barak,
in die laagte was Issaskar by Barak.
“By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.
16Waarom het jy by die saalsakke bly sit,
bly luister na die fluitspel by die veetroppe?
By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.
17Gilead het oorkant die Jordaan bly sit,
en waarom het Dan by die skepe gebly?
Aser het by die seestrand bly sit,
nie van sy kaai af geroer nie.
18Sebulon was nie bang vir die dood nie
en Naftali het die dood getrotseer op die hoogland.
19“Konings het gekom, hulle het geveg,
die konings van Kanaän het geveg
by Taänak, by Megiddo se waters,
maar hulle het nie silwer buitgemaak nie.
20Uit die hemel het die sterre geveg,
uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg.
21Die Kisonrivier het die vyand meegesleur,
die Kisonrivier, die rivier uit die voortyd.
“Hou moed! Wees sterk!
22“Die perde het met hulle hoewe gekap,
die sterkes het in jaaggalop voortgestorm.
23“Die Engel van die Here het gesê:
‘Julle moet vir Meros vervloek,
julle moet sy inwoners sonder genade vervloek,
want hulle het nie vir die Here kom veg nie,
nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie.’
24“Geseënd is Jael vrou van Geber die Keniet,
meer geseënd as al die vrouens,
die vrouens wat in tente woon.
25Sisera het water gevra, sy het hom melk gegee,
in 'n koningsbeker het sy vir hom dikmelk gegee.
26In haar hand het sy die tentpen vasgevat,
in haar regterhand die werksman se hamer.
Sy het vir Sisera daarmee getref, sy kop papgeslaan,
sy het die slaap van sy kop verbrysel,
dit deurboor.
27By haar voete het hy neergesak, geval en bly lê,
by haar voete het hy neergesak en geval;
waar hy neergesak het, het hy geval, morsdood.
28“Sisera se ma het deur die venster gekyk,
sy het by die traliewerk gestaan en gekla:
‘Waarom talm sy strydwa om te kom,
waarom bly die gedreun van sy strydwawiele weg?’
29“Haar slimste hofdame antwoord haar
en sy sê die woorde agterna:
30‘Hulle het 'n groot buit in die hande gekry,
hulle verdeel dit:
'n meisie of twee vir elke soldaat;
gekleurde klere as buit vir Sisera;
gekleurde weefwerk as buit,
gekleurde doeke vir my nek,
dit is die buit!’
31“Mag al u vyande so omkom, Here,
maar mag dié wat vir U liefhet,
wees soos die son wat in sy volle krag skyn.”
Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land.

Currently Selected:

RIGTERS 5: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy