YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 4

4
Debora
1Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. 3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.
Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was 'n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. 7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”
8Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.”
9Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan 'n vrou uitlewer.”
Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan. 10Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek.
11In daardie gebied was daar 'n man met die naam Geber, 'n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af en sy tent opgeslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes.
12Daar is aan Sisera vertel dat Barak seun van Abinoam na Taborberg toe opgetrek het. 13Sisera het toe sy nege honderd strydwaens en al sy manskappe van Garoset-Gojim af laat kom na Kisonspruit toe.
14Toe sê Debora vir Barak: “Trek op, want vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor. Die Here gaan voor jou uit.”
Barak het toe van Taborberg af afgegaan, en die tien duisend man het hom gevolg. 15Die Here het Sisera en sy strydwabemanning en sy hele leër baie bang laat word vir Barak en sy mag, en Sisera het van sy strydwa af afgespring en te voet gevlug. 16Barak het die strydwaens en die leër agternagesit tot by Garoset-Gojim, en die hele leër van Sisera is afgemaai: daar het nie een van hulle oorgebly nie.
17Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. 18Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!”
Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek. 19Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.”
Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. 20Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!”
21Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.
22Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”
Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met 'n tentpen deur sy slaap.
23Daardie dag het God vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder 24en hulle het al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom vernietig het.

Currently Selected:

RIGTERS 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy