YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 3

3
1Die Here het hierdie nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, dié Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie. 2Die Here wou hierdie Israeliete leer hoe om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie. Die volgende nasies is met rus gelaat: 3die Filistyne met hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die mense van Sidon en die Hewiete wat Libanonberg bewoon het, van Baäl-Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.
4Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het. 5Die Israeliete het toe gewoon tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 6Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien.
Otniël
7Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en die gewyde pale gedien. 8Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië en hulle was ag jaar sy onderdane.
9Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle 'n redder na vore laat kom wat hulle gered het. Hy was Otniël seun van Kenas, 'n jonger broer van Kaleb. 10Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer. Otniël het oorlog gemaak teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië, en die Here het hom oorgegee in die mag van Otniël. Hy het vir Kusan-Risatajim verslaan.
11Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.
Ehud
12Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. 13Eglon het die Ammoniete en ook vir Amalek by hom laat aansluit, en hulle het die Israeliete gaan verslaan en die Palmstad verower. 14Die Israeliete was agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab.
15Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het 'n redder vir hulle na vore laat kom, Ehud seun van Gera, 'n Benjaminiet. Ehud was links, en die Israeliete het hom met die belasting gestuur na koning Eglon van Moab toe.
16Ehud het vir hom 'n swaard gemaak, 'n halwe meter lank en aan albei kante geslyp. Hy het dit aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak. 17Hy het die belasting oorhandig aan koning Eglon van Moab, 'n baie vet man. 18Nadat Ehud die belasting oorhandig het, het die koning die mense wat dit gebring het, laat vertrek, 19maar Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “Koning Eglon, ek het 'n geheime boodskap om vir u te gee.”
Toe sê die koning: “Laat ons alleen,” en al sy amptenare het van hom af weggegaan. 20Ehud het nader gekom na die koning toe waar hy gesit het in sy koel bovertrek wat net vir hom bedoel was, en vir hom gesê: “Ek het 'n boodskap van God vir u.”
Hy het toe opgestaan van sy troon af, 21en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek. 22Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie. Hy het toe deur 'n geheime uitgang 23en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het. 24Nadat hy uit is, het Eglon se amptenare gekom en toe hulle sien dat die deure van die bovertrek gegrendel is, het hulle gedink die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koel vertrek.
25Hulle het tot vervelens toe gewag, maar die koning het nie die deure van sy bovertrek oopgemaak nie, en toe hulle 'n sleutel vat en oopsluit, lê hulle koning daar dood op die vloer. 26En omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug. 27Toe hy daar kom, het hy die ramshoring op die Efraimsberge laat blaas. Die Israeliete het van daar af na hom toe gekom. Hy het hulle leier geword 28en vir hulle gesê: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.”
Hulle is toe saam met hom en hulle het die Jordaandriwwe na Moab toe beset en niemand daar laat deurgaan nie. 29By daardie geleentheid het hulle die Moabiete verslaan: omtrent tien duisend man, almal sterk en goeie soldate. Niemand het ontsnap nie.
30Moab is daardie dag deur Israel onderwerp, en daar was tagtig jaar lank vrede in die land.
Samgar
31Na Ehud het Samgar seun van Anat opgetree. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met 'n stok en so vir Israel gered.

Currently Selected:

RIGTERS 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy