YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 11

11
1Jefta was 'n seun van Gilead. Hy was 'n dapper soldaat. Sy ma was 'n prostituut, maar sy pa was Gilead. 2Gilead se vrou het ook vir hom seuns in die wêreld gebring, en toe hulle grootword, het hulle vir Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie van ons pa erf nie, want jy is die kind van 'n ander vrou.”
3Toe vlug Jefta van sy broers af weg en gaan woon in Tob. 'n Klomp leeglêers het hulle by Jefta geskaar en saam met hom gegaan. 4'n Ruk daarna het die Ammoniete teen die Israeliete kom veg. 5Dit is toe dat die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob gaan haal het. 6Hulle het vir hom gesê: “Kom word ons aanvoerder sodat ons teen die Ammoniete kan veg.”
7Jefta het vir die leiers van Gilead gesê: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?”
8Maar die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Dit is juis waarom ons terug is by jou. Jy moet saam met ons kom sodat ons kan gaan oorlog maak teen die Ammoniete. Jy moet ons leier word en ook al die mense van Gilead s'n.”
9Toe sê Jefta vir die leiers van Gilead: “Moet ek julle leier word as julle my terugneem om teen die Ammoniete te veg en die Here hulle in my mag oorgee?”
10Die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons vir mekaar sê en Hy sal ons straf as ons nie doen wat jy sê nie.”
11Jefta is toe saam met die leiers van Gilead, en die leër het hom aangestel as hulle leier en aanvoerder. Hy het alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, in Mispa herhaal in die teenwoordigheid van die Here.
12Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die Ammoniete toe om hom te vra: “Wat het tussen ons gebeur dat jy hiernatoe gekom het om teen my land oorlog te maak?”
13Die koning van die Ammoniete het die boodskappers van Jefta geantwoord: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan. Gee dit nou in vrede terug.”
14Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur 15om vir hom te sê: “So sê Jefta: Israel het nie die grond van die Moabiete en die grond van die Ammoniete gevat nie. 16Toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hy deur die woestyn getrek tot by die Rietsee, en toe het hy by Kades aangekom. 17Daar het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en gevra: ‘Laat my asseblief deur jou land trek,’ maar hy het nie ingestem nie. Israel het dieselfde van die koning van Moab gevra, maar hy wou hulle nie toelaat nie. Israel het toe in Kades gebly. 18Daarna het hy deur die woestyn getrek, by die gebied van Edom en dié van Moab verby en oos van Moab, noord van die Arnon, kamp opgeslaan. Hy het nie in die gebied van Moab gekom nie, want die Arnon is Moab se grens. 19Toe het Israel boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe in Gesbon en vir hom gevra: ‘Laat my tog na my plek toe trek deur jou gebied.’ 20Maar Sihon het nie vir Israel vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele volk bymekaargemaak, en hulle het by Jahas kamp opgeslaan en teen Israel begin veg. 21Die Here die God van Israel het vir Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee, en hy het hulle verslaan en die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het, in besit geneem.
22“Die Israeliete het die hele gebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan. 23Die Here die God van Israel het die Amoriete weggedryf voor sy volk Israel uit, en wil jy hom nou kom verdryf? 24Jy besit wat jou god Kemos jou in besit laat neem het. Wat die Here ons God ons in besit laat neem het, is ons s'n. 25Is jy dalk beter as koning Balak van Moab, seun van Sippor? Het hy dalk 'n saak gemaak teen Israel of met hom oorlog gemaak?
26“Drie honderd jaar gelede het Israel in Gesbon en sy buitedorpe gaan woon, en ook in Aroër en sy buitedorpe, en in al die stede op die Arnonoewer. Waarom het jy hulle nie in daardie tyd teruggevat nie? 27Ek het niks verkeerds teenoor jou gedoen nie; maar jy handel verkeerd teenoor my deur met my te kom oorlog maak. Die Here wat regter is, sal vandag uitspraak lewer in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.”
28Maar die koning van die Ammoniete het nie geluister na die boodskap wat Jefta gestuur het nie. 29Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het deur Gilead en Manasse getrek en verbygetrek tot by Mispa in Gilead, en van daar af het hy teen die Ammoniete opgetrek.
30Jefta het 'n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, 31sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.”
32Jefta het na die Ammoniete toe getrek om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy mag oorgegee. 33Jefta het hulle van Aroër af verslaan tot waar 'n mens kom by Minnit, twintig stede. By Abel-Keramim was daar 'n groot veldslag. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder.
34Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koordanse. Sy was sy enigste kind. Hy het nie nog 'n seun of 'n dogter gehad nie.
35Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur en gesê: “Ag, my dogter, jy het my gebreek en in die ellende gedompel: ek het my woord aan die Here gegee en ek kan dit nie terugtrek nie.”
36Jefta se dogter het hom geantwoord: “Pa, Pa het Pa se woord aan die Here gegee. Doen met my wat Pa gesê het nou dat die Here vir Pa gehelp het om Pa se vyande, die Ammoniete, te straf.” 37Sy het verder vir hom gesê: “Bewys my net hierdie guns: gee my twee maande uitstel om berge toe te gaan en daar saam met my vriendinne te gaan treur oor my lewe as jongmeisie.”
38Hy het vir haar gesê: “Gaan gerus maar!”
Hy het haar twee maande vrygelaat, en sy en haar vriendinne het berge toe gegaan en gaan treur oor haar lewe as jongmeisie. 39Na die twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het met haar gehandel volgens sy gelofte wat hy afgelê het. Sy het nooit gemeenskap met 'n man gehad nie.
40Dit het 'n gewoonte in Israel geword: dat die Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor die dogter van Jefta die Gileadiet.

Currently Selected:

RIGTERS 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy