YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 3

3
Juda het in duie gestort
1Die Here die almagtige God
gaan uit Jerusalem en Juda
elke stut en steunpilaar verwyder:
almal wat sorg vir brood en water,
2elke weerbare burger, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, leier,
3offisier, hoë amptenaar, raadgewer, kundige vakman en ervare besweerder.
4Die Here sal aan onvolwassenes gesag gee oor die volk,
wispelturige mense sal oor hulle heers.
5Die volk sal mekaar te lyf gaan,
man teen man, vriend teen vriend;
seuns sal grysaards te lyf gaan,
en dié wat nie gesag het nie, die vooraanstaandes.
6As iemand sy broer in die ouerhuis pak en sê:
“Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier
en regeer oor hierdie vervalle spul,”
7sal hy op daardie dag uitroep:
“Ek wil nie die leiding neem nie!
Daar is nie kos
en ook nie behoorlike klere in my huis nie;
moet my nie aanstel as leier van die volk nie.”
8Jerusalem het gewaggel,
Juda het in duie gestort
omdat hulle hulle met woord en daad
teen die Here en teen sy gesag verset het.
9Hulle partydigheid in die regspraak getuig teen hulle.
Hulle sondig openlik soos Sodom,
hulle steek niks weg nie.
Ellende wag vir hulle,
hulle het die ramp verdien!
10Sê vir die regverdiges met húlle sal dit goed gaan;
hulle sal die vrug van hulle dade geniet.
11Maar ellende wag vir die skuldiges;
wat hulle gedoen het,
sal aan húlle gedoen word.
12My volk het kinders as regeerders,
vrouens as heersers.
My volk, jou leiers verlei jou
en bring jou van koers af.
13Die Here is gereed vir die regsaak,
Hy staan klaar om oor die volk te oordeel.
14Die Here begin die saak
teen die leiers en die hoë amptenare van sy volk:
Julle het die wingerde gestroop;
wat van die hulpeloses geroof is,
lê in julle huise.
15Wat besiel julle dat julle my volk vertrap
en die hulpeloses verdruk?
vra die Here my God, die Almagtige.
16Verder het die Here gesê:
Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is
en kop in die lug rondloop
terwyl hulle ogies maak,
wegstap met trippelgang
en hulle enkelringe laat rinkel,
17sal Ek, die Here, hulle hare afskeer.
Ja, die Here sal hulle koppe kaalskeer.
18Op dié dag sal die Here die versiersels wegneem: enkelringe, sonnetjies en maantjies, 19oorbelletjies en armbande, sluiers 20en hooftooisels, voetkettinkies, versierde gordels, reukwater en gelukbringertjies, 21ringe en neusringe, 22feesklere, mantels en tjalies, handsakkies 23en spieëltjies, spogrokkies, kopdoekies en skouermanteltjies.
24In plaas van reukwater sal daar stank wees,
in plaas van 'n gordel 'n tou,
in plaas van gekrulde hare 'n kaalkop,
in plaas van 'n fyn kledingstuk 'n harige roukleed,
in plaas van skoonheid die brandmerk van 'n slaaf.
25Jerusalem, jou manne sal deur die swaard val
en jou jongmanne in die oorlog.
26Jou poorte sal treur en rou,
en jy sal sonder mense sit.

Currently Selected:

JESAJA 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy