YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 35

35
Jakob kom weer by Bet-El
1God het vir Jakob gesê: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.”
2Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. 3Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.”
4Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe. 5Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie.
6Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El. 7Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het.
8Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem.
9Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. 10God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”
God het hom toe Israel genoem.
11God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. 12Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.”
13Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het, 14het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie.
15Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.
Die geboorte van Benjamin
16Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte. 17Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!”
18Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni . Sy pa het hom egter Benjamin genoem.
19Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. 20Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.
'n Stukkie familiegeskiedenis
21Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder. 22Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom.
Jakob het twaalf seuns gehad.
23Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
24Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.
25Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali.
26Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser.
Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is.
27Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham. 28Isak het honderd en tagtig jaar oud geword 29en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

Currently Selected:

GENESIS 35: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy