Versions

Cancel
 
2
Paulus word deur die ander apostels erken
1Veertien jaar later het ek weer Jerusalem toe gegaan, hierdie keer ek en Barnabas, en ek het vir Titus ook saamgeneem. 2God het dit aan my geopenbaar dat ek moet gaan. Ek het toe die evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie.
3Hoewel Titus, wat saam met my was, 'n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. 4Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak. 5Aan hulle eise het ons egter nie 'n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.
6Die leiers van die gemeente — wat hulle vroeër was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na 'n mens se uiterlike nie — die leiers van die gemeente het aan die evangelie wat ek verkondig, niks toegevoeg nie. 7Inteendeel, hulle het ingesien dat die taak aan my toevertrou is om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig, net soos dit aan Petrus toevertrou is om die evangelie aan die Jode te verkondig. 8Dieselfde God wat van Petrus 'n apostel vir die Jode gemaak het, het van my 'n apostel vir die nie-Jode gemaak.
9Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode. 10Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.
In Antiogië wys Paulus vir Petrus tereg
11Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. 12Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. 13Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep.
14Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”
Geregtigheid uit die geloof
15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.
17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot 'n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As 'n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.