1
1-2Van Paulus, 'n apostel, en van al die broers wat by my is.
Dat ek 'n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur 'n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.
Aan die gemeentes in Galasië.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.
Daar is geen ander evangelie nie
6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en 'n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs 'n engel uit die hemel aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het — die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het — die vloek van God sal hom tref!
10Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.
Hoe Paulus 'n apostel geword het
11Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie. 12Ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of by 'n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in 'n openbaring aan my gegee.
13Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog 'n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. 14En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was 'n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.
15Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het 16om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg 17of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe.
18Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. 19Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. 20Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie — God is my getuie.
21Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. 22Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; 23hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” 24En hulle het God verheerlik oor my.
Loading reference in secondary version...