YouVersion Logo
Search Icon

ESRA 6

6
1In opdrag van koning Darius is daar toe ondersoek gedoen in die argiewe in Babel waar die dokumente gebêre word, 2en in Agmeta die hoofstad van die provinsie Medië is daar so 'n geskrif gevind. Daarin het gestaan:
“Proklamasie:
3“In sy eerste regeringsjaar het koning Kores 'n bevel uitgevaardig in verband met die tempel in Jerusalem. Die tempel moet herbou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet versterk word en die gebou moet dertig meter hoog en dertig meter breed wees, 4met telkens drie lae gekapte klip en een laag hout. Die koste moet gedra word deur die koninklike skatkis. 5Die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en na Babel toe gebring het, moet teruggegee word. Dit moet teruggevat word na die tempel toe in Jerusalem waar dit hoort en daar in die tempel gesit word.”
6Koning Darius het toe soos volg laat skryf:
“Aan goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat.
“Julle moet daar wegbly. 7Laat die werk aan daardie tempel ongehinderd voortgaan. Laat die goewerneur van die Judeërs en hulle leiers die tempel bou waar hy moet wees. 8Ek gee hiermee ook opdrag wat julle moet doen om daardie Judese leiers te help met die bou van die tempel: Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklike fondse, die belasting van Wes-Eufraat. 9Wat ook al nodig is volgens die priesters in Jerusalem, moet aan hulle gegee word: jong bulle, ramme en lammers vir die offers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie. Dit moet elke dag gedoen word, sonder om oor te slaan, 10sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word. 11Ek beveel verder dat enigiemand wat hierdie opdrag oortree, deurboor sal word met 'n balk wat uit sy eie huis geruk is, en dat sy huis afgebreek moet word. 12Mag die God wat sy Naam op daardie plek laat woon, elke koning en elke volk tot 'n val bring wat hierdie bevel oortree of 'n hand lig om daardie tempel in Jerusalem te beskadig. Ek, Darius, het opdrag gegee. Dit moet presies so uitgevoer word!”
Die voltooiing en inwyding van die tempel
13Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote het toe gedoen presies wat koning Darius hulle beveel het. 14Die Judese leiers het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artasasta van Persië beveel het.
15Die tempel is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius. 16Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die ander wat uit die ballingskap teruggekom het, het die inwyding van die tempel met vreugde gevier. 17Hulle het met die inwyding van die tempel honderd bulle, twee honderd ramme en vier honderd lammers geoffer, en as sondeoffer vir die hele Israel ook nog twaalf bokramme, een vir elke stam van Israel. 18Hulle het die priesters ingedeel in afdelings en die Leviete in diensgroepe vir die diens van God in Jerusalem soos dit in die boek van Moses voorgeskryf is.
Paasfees
19Die ballinge wat teruggekom het, het die paasfees gevier op die veertiende van die eerste maand. 20Die priesters en die Leviete het hulle sonder uitsondering gereinig en almal was rein. Die Leviete het die paaslam geslag vir almal wat uit die ballingskap teruggekom het en vir hulle ampsgenote die priesters en vir hulleself. 21Die paaslam is geëet deur die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het en deur elkeen wat hom van die onreinheid van die heidene in die land afgeskei het om die Here die God van Israel te dien. 22Hulle het die fees van die ongesuurde brood sewe dae met vreugde gevier. Die Here het hulle dié vreugde geskenk toe Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, en dié hulle hande gesterk het in die werk aan die tempel van die God van Israel.

Currently Selected:

ESRA 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy