YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 41

41
1Daarna het die man my in die tempel self gebring en die mure weerskante van die ingang van die tempel gemeet. Hulle was drie meter dik aan weerskante. 2Die wydte van die ingang was vyf meter, en dié van die mure aan weerskante was twee en 'n half meter lank. Die tempelvertrek was twintig meter lank en tien meter breed. 3Die man het toe na die binneste vertrek toe gegaan en die mure weerskante van die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang self was drie meter wyd en die mure aan weerskante drie en 'n half meter lank. 4Hy het die vertrek gemeet. Die lengte was tien meter en die breedte, net soos dié van die tempelvertrek, ook tien meter. Die man het vir my gesê: “Hierdie vertrek is die Allerheiligste.”
5Daarna het hy die muur van die tempelgebou gemeet. Dit was drie meter dik. Buite om die tempelgebou was daar kamers aangebou, twee meter breed. 6Die kamers was in drie verdiepings, elkeen met dertig kamers. Die muur waarop hierdie verdiepinggebou gerus het, was regoor elke verdieping dunner as regoor die vorige, sodat die verdiepings nie in die tempelmuur self nie maar in dié afsonderlike muur ingebou was. 7Die tempelgebou was dus rondom toegebou tot bo toe, en die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar het trappe opgegaan van die onderste verdieping af deur die middelste na die boonste toe. 8Ek het gesien die tempelgebou is hoër as die ander gebou rondom. Die fondamente van die verdiepinggebou was 'n volle drie meter hoog. 9Die muur van die verdiepinggebou aan die buitekant was twee en 'n half meter breed. Die terras tussen die verdiepings teen die tempelgebou 10en die vertrekke rondom was tien meter. 11Die ingange na die verdiepinggebou toe was van die terras af. Daar was ingange aan die noorde- en aan die suidekant. Die terras was rondom twee en 'n half meter breed.
12Daar was 'n gebou aan die westekant van die tempelplein. Die gebou was vyf en dertig meter breed en vyf en veertig meter lank, en sy muur rondom was twee en 'n half meter dik.
13Die man het eers die tempelgebou gemeet. Dit was vyftig meter lank. Daarna het hy die tempelplein agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, ook vyftig meter. 14Voor die tempelgebou aan die oostekant was die tempelplein vyftig meter wyd. 15Daarna het die man die westelike gebou aan die tempelplein agter die tempelgebou gemeet, saam met die gange weerskante van die groot gebou. Die afstand was vyftig meter.
Die voorste en die binneste tempelvertrekke, die toegangsportaal uit die binneste voorhof uit, 16die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels, was alles met hout oorgetrek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met hout oorgetrek, ook die vensteropenings self.
17Bokant die ingang en teen die tempelgebou binne en buite, teen al die mure rondom binne en buite, was daar reëlmatig 18gerubs en palmversierings aangebring, telkens 'n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad, 19'n mensgesig na die kant toe van die palm aan die een kant, en 'n leeugesig na die kant toe van die palm aan die ander kant. Die versierings was rondom teen die hele tempelgebou aangebring. 20Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die muur van die voorste tempelvertrek. 21Die voorste tempelvertrek se deurkosyn was vierkantig, en dié van die Allerheiligste ook.
22Die altaar in die voorste tempelvertrek was van hout, een en 'n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante rondom was van hout. Die man het vir my gesê: “Dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan.”
23Die voorste tempelvertrek en die Allerheiligste het elkeen 'n deur gehad. 24Elke deur het twee deurvleuels, twee swaaideure, gehad. 25Op die swaaideure, op dié van die voorste tempelvertrek, was gerubs en palms aangebring net soos op die mure. Voor die toegangsportaal aan die buitekant was 'n afdak van hout. 26In die mure weerskante van die ingangsportaal was daar vensteropenings met hortjies, en teen die mure was palmversierings. Dit was ook die geval met die verdiepinggebou rondom die tempel en met die afdakke.

Currently Selected:

ESEGIËL 41: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy