YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 26

26
Die tabernakel
(Vgl. Eks. 36:8-38)
1“Jy moet 'n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur. 2Elke stuk materiaal moet veertien meter lank en twee meter breed wees, almal moet presies ewe groot wees. 3Werk die stukke materiaal vyf-vyf aanmekaar vas. 4Jy moet dan blou lissies vaswerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook, 5vyftig vir die een en vyftig vir die ander. Die lissies moet presies regoor mekaar wees. 6Jy moet ook nog vyftig goue hakies maak om die twee stroke materiaal aanmekaar vas te maak sodat die tabernakel een geheel kan wees.
7“Jy moet 'n tent van bokhaarmateriaal maak om oor die tabernakel te sit. Jy moet elf stukke bokhaarmateriaal gebruik, 8en elkeen moet vyftien meter lank en twee meter breed wees. Hulle moet almal presies ewe groot wees.
9“Jy moet eers vyf stukke aanmekaar werk en dan weer die ses ander stukke. Vou die sesde stuk dubbel aan die voorkant van die tent. 10Jy moet vyftig lissies vaswerk aan die een kant van die een strook en so ook vyftig aan die een kant van die ander strook. 11Jy moet vyftig bronshakies maak en die hakies deur die lissies haak om die stroke aanmekaar vas te maak sodat die tent een stuk is. 12Die deel van die een strook materiaal wat oorskiet, moet by die agterkant van die tabernakel oorhang. 13Die vyftig sentimeter wat weerskante in die lengte van die stroke oorskiet, moet dus weerskante van die sye van die tabernakel 'n oorhang wees om dit toe te maak.
14“Jy moet verder 'n seil van rooigekleurde ramsvelle vir die tent maak en 'n seil van gebreide vel daarbo-oor span.
15“Jy moet rame van doringhout maak vir die tabernakel om dit regop te hou. 16Elke raam moet vyf meter lank en 'n driekwart meter breed wees. 17Daar moet twee tappe vir elke raam wees om die rame aanmekaar te kan voeg. So moet jy al die rame vir die tabernakel maak.
18“Maak twintig rame vir die raamwerk aan die suidekant, die regterkant van die tabernakel. 19Verder moet jy veertig silwervoetstukke maak om onder die twintig rame te sit, twee voetstukke onder elke raam by sy twee tappe.
20“Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, moet daar ook twintig rame wees. 21Vir hulle moet daar ook veertig silwervoetstukke wees, twee voetstukke onder elke raam. 22Jy moet ses rame maak vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 23Jy moet ook nog twee rame maak vir die hoeke aan die agterkant van die tabernakel. 24Hierdie rame moet van onder tot bo, tot by die boonste ring, versterk word. Hulle is die hoekrame. 25Daar moet dus ag rame wees met hulle sestien voetstukke, twee voetstukke vir elke raam.
26“Jy moet dwarslatte van doringhout maak, vyf vir die rame van die een kant van die tabernakel 27en vyf vir dié van die ander kant, en ook nog vyf dwarslatte vir die agterkant, die westekant van die tabernakel. 28Die middelste dwarslat moet in die middel van die rame dwarsdeur loop van die een kant af tot by die ander kant.
29“Trek die rame met goud oor en maak vir hulle goue ringe om die dwarslatte deur te steek. Die dwarslatte moet ook met goud oorgetrek word. 30Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.
31“Jy moet 'n voorhangsel maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur. 32Hang dit aan vier doringhoutstyle wat met goud oorgetrek is en wat op vier silwervoetstukke staan. Daar moet goue kramme aan die style wees 33en jy moet die voorhangsel, met hakies aan die binnekant, ophang. Sit dan die ark met die getuienis daarin, agter die voorhangsel. Die voorhangsel moet vir julle die Heilige van die Allerheiligste skei. 34Jy moet die deksel op die ark met die getuienis sit, in die Allerheiligste.
35“Sit die tafel voor die voorhangsel, aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant, regoor die tafel.
36“Jy moet vir die ingang van die tent 'n afskorting maak van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Dit moet borduurwerk wees. 37Maak vir die afskorting vyf doringhoutstyle en trek dit oor met goud. Jy moet goue kramme maak vir die style en vyf bronsvoetstukke daarvoor giet.”

Currently Selected:

EKSODUS 26: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy