YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 25

25
Offergawes om 'n heiligdom op te rig
(Vgl. Eks. 35:4-9)
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete hulle moet elkeen vir My 'n offergawe bring. Julle moet die offergawes aanvaar soos dit vir My aangebied word, 3en wel die volgende: goud, silwer en brons; 4verder ook nog blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, 5rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle en doringhout; 6olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierookoffers; 7oniks en ander halfedelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word.
8“Hulle moet vir My 'n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon. 9Die tabernakel en al sy toebehore moet gemaak word presies volgens die plan wat Ek jou gewys het.”
Die ark
(Vgl. Eks. 37:1-9)
10“Julle moet 'n ark van doringhout maak: een en 'n kwart meter lank, 'n driekwart meter breed en net so hoog. 11Jy moet dit binne en buite met suiwer goud oortrek en 'n goue lys rondom vassit. 12Verder moet jy vier goue ringe giet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit moet word, sodat daar twee ringe aan elke kant is. 13Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. 14Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan weerskante van die ark steek om die ark daarmee te dra. 15Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly en mag nooit uitgehaal word nie. 16In die ark moet jy die getuienis van die verbond sit wat Ek jou sal gee.
17“Dan moet jy 'n deksel van suiwer goud maak, een en 'n kwart meter lank en 'n driekwart meter breed. 18Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. 19Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle 'n eenheid met die deksel vorm. 20Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel. 21Jy moet die deksel bo-op die ark sit en daarbinne die getuienis wat Ek jou sal gee.
22“Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee.”
Die tafel vir die offerbrood
(Vgl. Eks. 37:10-16)
23“Jy moet 'n tafel van doringhout maak. Sy lengte moet een meter wees, sy breedte 'n half meter en sy hoogte 'n driekwart meter. 24Trek dit oor met suiwer goud en sit 'n goue lys rondom vas. 25Jy moet 'n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel sit en daarrondom 'n goue lys vassit. 26Jy moet vier goue ringe vir die tafel maak en dit aan die vier hoeke vassit, regoor die vier pote. 27Die ringe moet naby die band vas kom sodat die draaghoute deur hulle gesteek kan word om die tafel mee te dra. 28Maak die draaghoute waarmee die tafel gedra moet word, van doringhout en trek hulle oor met goud.
29“Maak vir die tafel skottels, panne, kanne en komme, alles van suiwer goud. Gebruik dit om die drankoffer mee uit te giet. 30Sit offerbrood op die tafel. Dit moet altyd daar voor My in my teenwoordigheid wees.”
Die kandelaar
(Vgl. Eks. 37:17-24)
31“Jy moet 'n kandelaar van suiwer goud maak. Dit moet van geslae goud wees, sodat die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare alles een geheel is. 32Daar moet ses arms uit die stam vertak, drie aan elke kant. 33Daar moet ook drie blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar wees. So moet dit wees vir al ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. 34Vir die hoofstam van die kandelaar moet daar vier blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare wees. 35Verder moet daar 'n knop wees onder elke paar arms van die kandelaar, drie vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. 36Die knoppe en die arms moet alles wees uit een stuk suiwer geslae goud. 37Jy moet sewe lampies maak en dit so op die kandelaar vassit dat dit lig gee na sy voorkant toe. 38Die pithouers en bakkies van die kandelaar moet van suiwer goud wees. 39Al hierdie voorwerpe moet uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak word. 40Sorg dat jy dit maak volgens die plan wat vir jou op die berg gewys is.”

Currently Selected:

EKSODUS 25: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy