YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 1

1
Koningin Vasti weier koning Ahasveros se versoek
1Dit was in die tyd van Ahasveros. Hy het geregeer oor 'n ryk van honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus. 2In die tyd toe sy troon in die vestingstad Susan was, 3in die derde jaar van sy regering, het hy 'n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die provinsies was teenwoordig. 4By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon. 5Daarna het die koning almal in die stad Susan, groot en klein, 'n week lank in die paleistuin onthaal. 6Daar het wit en bloedrooi linnedoeke gehang wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan marmerpilare. Verder was daar silwer- en goue rusbanke op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip. 7Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en daar was 'n oorvloed koninklike wyn soos 'n mens van 'n koning kon verwag. 8Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel.
9Koningin Vasti het intussen ook die vrouens onthaal in die paleis van koning Ahasveros.
10Op die sewende dag, toe die koning baie vrolik was van die wyn, het hy sewe paleisbeamptes geroep: Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas. 11Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te laat kom sodat hy vir al die mense, al die hoë amptenare, kon wys hoe mooi sy is. Sy was 'n baie mooi vrou.
12Koningin Vasti het egter geweier om te kom soos die koning haar deur sy paleisbeamptes beveel het. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend 13en het raad gevra by sy adviseurs wat geweet het hoe en wanneer om op te tree, want dit was gebruiklik dat die koning die kenners van wet en reg sou raadpleeg. 14Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was by die koning. Hulle was die sewe hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het en die hoogste poste in die koninkryk beklee het. 15Hy vra hulle toe: “Wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti wat nie gehoorsaam was aan die bevel van die koning deur sy paleisbeamptes nie?”
16Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenare en al die mense in al die provinsies van die koning. 17Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie.’ 18Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak. 19As u dit goedvind, vaardig 'n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy. 20As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel.”
21Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goedgevind, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het 22en briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.

Currently Selected:

ESTER 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy