1
Moses praat met die Israeliete in die woestynvlakte
1In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. 2Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom. 3Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het. 4Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï. 5Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het.
Hy het gesê: 6“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. 7Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat. 8Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met 'n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’
9“Toe julle van Horeb af weg is, het ek vir julle gesê: ‘Ek kan nie alleen al die verantwoordelikheid vir julle dra nie. 10Die Here julle God het julle baie laat word, en nou is julle net so baie soos die sterre aan die hemel. 11Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle 'n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. 12Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor? 13Bring uit julle stamme verstandige manne, manne met insig, manne van aansien, sodat ek hulle as hoofde oor julle kan aanstel.’ 14Toe het julle vir my gesê: ‘Wat u wil doen, is reg,’ 15en ek het die leiers uit julle stamme aanvaar, verstandige manne, manne van aansien, en hulle aangestel as hoofde oor julle, leiers van duisend, van honderd, van vyftig en van tien: amptenare vir julle stamme. 16In dieselfde tyd het ek ook julle regters beveel: ‘Verhoor die sake wat daar tussen julle volksgenote kom en lewer regverdige uitsprake, of dit nou is tussen volksgenoot en volksgenoot of tussen volksgenoot en vreemdeling. 17Moenie partydig wees as julle 'n saak verhoor nie, luister na klein en groot. Moenie vir mense bang wees nie. Wie regspreek, is in diens van God. Sake wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal hulle verhoor.’
18“Ek het julle destyds alles beveel wat julle moet doen.”
In die woestyn
(Vgl. Num. 13:1 -- 14:45)
19“Ons het van Horeb af weggetrek en ons het deur daardie groot woestyn met al sy gevare getrek, daardie woestyn wat julle self gesien het. Ons het met die pad na die Bergwêreld van die Amoriete toe getrek soos die Here ons God ons beveel het, en ons het by Kades-Barnea uitgekom. 20Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons. 21Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’
22“Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is. 23Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam. 24Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken. 25Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’
26“Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God. 27Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit. Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei. 28Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’
29“Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie. 30Die Here julle God gaan voor julle uit en Hy sal vir julle veg net soos Hy in Egipte voor julle eie oë alles vir julle gedoen het. 31Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra.’ 32Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God 33wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie. Snags het Hy vir julle julle pad met vuur aangewys en bedags met 'n wolkkolom.
34“Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê: 35‘Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie. 36Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg.’
37“Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: ‘Ook jý sal nie die land ingaan nie. 38Jou assistent, Josua seun van Nun, hý sal daar ingaan. Moedig hom aan, want dit is hý wat Israel die land in besit sal laat neem. 39Julle babatjies van wie julle gesê het hulle sal buitgemaak word, en julle kleuters wat nou nog niks weet nie, hulle sal die land ingaan. Ek gee dit vir hulle en hulle sal dit in besit neem. 40Julle moet nou omdraai en die woestyn in trek, al met die pad na die Rietsee toe.’
41“Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower.
42“Maar die Here het vir my gesê: ‘Sê vir hulle hulle moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie.’ 43Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek, 44maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag. 45Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie. 46So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het.”
Loading reference in secondary version...