YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 79

79
Help ons, o God, ons Redder
1'n Psalm van Asaf.
Heidene het u land binnegedring, o God,
hulle het u heilige tempel ontwy
en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars
aan die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars
rondom Jerusalem laat vloei soos water.
Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het 'n bespotting vir ons buurvolke geword,
ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?
Sal u toorn dan vir altyd duur,
u woede soos 'n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref: hulle dien U nie;
laat dit die koninkryke tref wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob tot niet gemaak
en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte
op ons laat neerkom nie,
ontferm U tog gou oor ons,
want ons kragte is gedaan.
9Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.
10Waarom moet die heidene sê:
“Waar is hulle God nou?”
Laat ons aanskou hoe u straf die heidene tref
oor die bloed van u dienaars wat vergiet is.
11Slaan tog ag op die gesug van die gevangenes.
Red deur u groot mag dié wat met die dood bedreig word.
12Betaal ons bure dubbel en dwars terug, Here,
vir die bespotting wat U van hulle moes verduur.
13Ons, u volk en u kudde, sal U altyd loof,
van geslag tot geslag sal ons van u roemryke dade vertel.

Currently Selected:

PSALMS 79: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy