YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 109

109
U is goed en getrou, red my tog!
1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.
U is die God wat ek altyd loof,
moet tog nie my gebede onverhoord laat nie!
2Dit is goddelose mense en leuenaars wat my aankla.
Hulle getuig vals teen my,
3met woorde vol haat tref hulle my van alle kante,
sonder enige rede val hulle my aan.
4My liefde beantwoord hulle met vyandskap,
en dit terwyl ek nog altyd vir hulle gebid het.
5So vergeld hulle my met kwaad vir goed
en haat vir liefde, en hulle sê:
6“Stel 'n misdadiger aan as sy regter,
laat een wat vyandig is, hom aankla;
7sorg dat hy skuldig bevind word,
laat selfs sy gebed teen hom tel as 'n misdaad.
8Laat sy lewe kort wees
en laat 'n ander sy amp oorneem!
9Mag sy kinders wees word,
sy vrou 'n weduwee!
10Laat sy kinders as bedelaars rondswerf
en tussen die puinhope van hulle huise kos soek.
11Laat die skuldeiser beslag lê op al sy besittings,
laat vreemdes plunder wat hy met moeite bymekaargemaak het!
12Laat niemand aan hom liefde bewys nie,
laat niemand hom die lot van sy kinders aantrek nie.
13Laat sy nageslag uitgeroei word,
laat hulle naam binne een geslag uitgewis wees!
14Mag die Here die ongeregtigheid van sy voorvaders nie vergeet nie,
mag die sonde van sy moeder nooit uitgewis word nie!
15Laat dit voortdurend vir die Here bly bestaan,
maar laat hulle naam van die aarde af gevee word
16omdat hy nie daaraan gedink het om liefde te bewys nie:
hy het die mens in nood en die arme,
dié wat plat geslaan is, tot die dood toe vervolg.
17Hy het graag vervloek, laat die vloek hóm tref!
Hy het nie graag geseën nie, laat seën ver van hóm af wees!
18Om mense te vervloek, is vir hom soos klere dra,
soos water drink,
soos lyfolie aansmeer.
19Laat sy vloek hom aankleef soos sy klere,
soos 'n gordel wat hy deurentyd dra!”
20Mag die Here dit alles oor my teëstanders laat kom,
oor dié wat my sulke vreeslike dinge toewens.
21U is die Here my God,
handel met my só dat u Naam geëer sal word.
U is goed en getrou, red my tog.
22Ek is hulpeloos en arm,
my hart is inmekaargekrimp in my.
23Soos 'n skaduwee wat lank word, is my einde naby,
en ek word weggevee soos 'n sprinkaan.
24My knieë knak al soos ek gevas het,
my liggaam is uitgeteer en maer.
25Ek het die spot van die mense geword;
hulle kyk met veragting na my
en knik met voldoening die kop.
26Help my, Here my God,
red my in u troue liefde,
27dat mense kan weet dat dit u hand is,
U, Here, wat dit gedoen het.
28Húlle vloek my, maar U sal my seën.
Hulle kla my aan, maar hulle sal verloor,
en ek, u dienaar, sal bly wees.
29Laat my teëstanders met skande oordek word,
laat vernedering hulle aankleef soos hulle klere.
30Dan sal ek my lof aan die Here laat weerklink
en Hom voor 'n groot skare prys,
31want Hy staan by die arme
en red hom van dié wat hom ter dood wil veroordeel.

Currently Selected:

PSALMS 109: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy