Parallel
10
Die sending van die twee en sewentig
(Vgl. Matt. 11:20-24)
1Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
4“Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ 6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ 10Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ 12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.
13“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!
16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”
Die terugkoms van die twee en sewentig
17Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”
18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”
Die blydskap van Jesus
(Matt. 11:25-27; 13:16-17)
21By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.
22“My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.”
23Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien, 24want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”
Die barmhartige Samaritaan
(Matt. 22:34-40; Mark. 12:28-34)
25Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”
27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”#Vgl. Deut. 6:5; Lev. 19:18
28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”
29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”
30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Op besoek by Marta en Maria
38Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”
41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”