YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 16:23-31

RIGTERS 16:23-31 AFR83

Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.” Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!” Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.” Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan, en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.” Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak. Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!” Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander. Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.” Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe. Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf. Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy