YouVersion Logo
Search Icon

HEBREËRS 9

9
Die aardse heiligdom en sy offers
1Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook 'n aardse heiligdom. 2Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. 3Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word.
4Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe. 5Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.
6Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig. 7Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het. 8Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is so lank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie. 9Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie. 10Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel.
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.
15Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” 21Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.
Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

Currently Selected:

HEBREËRS 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy