HANDELINGE 13:13-52 AFR83

13Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom. Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.” 16Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! 17Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei 18en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur. “Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. 21Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. 22Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind.#Vgl. Ps. 89:21; 1 Sam. 13:14 Hy sal al my opdragte uitvoer.’ 23Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. 24Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. 25En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’ 26“Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. 27Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. 28En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. 29Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. 30Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. 32“En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: “Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee.#Vgl. Ps. 2:7 34“God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: “Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.#Vgl. Jes. 55:3 35“Daarom sê God ook op 'n ander plek: “U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.#Vgl. Ps. 16:10 36“En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. 37Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek. 38-39“Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. 38-39“Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. 40Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie: 41“Kyk, julle verag God! Julle sal verstom staan en te gronde gaan, want in julle tyd doen Ek iets wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie!#Vgl. Hab. 1:5 42Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. 44Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47want so lui die Here se opdrag aan ons: “Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.#Vgl. Jes. 49:6 48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.