YouVersion Logo
Search Icon

2 TIMOTEUS 4

4
1Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, 3want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. 4Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.
6Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.
Persoonlike woorde
9Probeer so gou moontlik na my toe kom, 10want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek. Kressens is na Galasië en Titus na Dalmasië toe. 11Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees. 12Tigikus het ek na Efese toe gestuur. 13As jy kom, moet jy die reismantel saambring wat ek by Karpus in Troas laat bly het, en ook die boeke, veral die perkamente.
14Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het. 15Jy moet ook vir hom op jou hoede wees, want hy het ons prediking heftig teengewerk.
16Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.
18Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.
Laaste groet
19Groete aan Priscilla en Akwila en aan die huisgesin van Onesiforus. 20Erastus het in Korinte agtergebly; Trofimus het ek in Milete siek agtergelaat. 21Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die broers stuur vir jou groete.
Die Here sal by jou wees.
22Die genade sal by julle wees!

Currently Selected:

2 TIMOTEUS 4: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy