YouVersion Logo
Search Icon

2 TIMOTEUS 2

2
Die goeie soldaat van Christus
1Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. 2Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.
3Dra jou deel van die ontberings soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 4'n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie. 5'n Atleet wat aan 'n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding. 6Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste 'n deel van die oes te kry. 7Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.
8Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. 9Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos 'n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. 10Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. 11Dit is 'n betroubare woord:
As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe;
12as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën;
13as ons ontrou is – Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.
Die arbeider wat goedkeuring wegdra
14Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. 15Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. 16Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, 17en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, 18wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. 19Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer:
“Die Here ken dié wat aan Hom behoort,”
en:
“Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort,
moet wegbreek van die ongeregtigheid.”
20In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.
22Vermy die begeertes wat 'n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit 'n rein hart die Here aanroep. 23Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. 24'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. 25Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. 26Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.

Currently Selected:

2 TIMOTEUS 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy