YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 9

9
Dawid neem Mefiboset onder sy sorg
1Op 'n dag het Dawid gevra: “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.”
2Hulle het toe vir Siba, 'n amptenaar van Saul se hofhouding, na hom toe laat roep.
“Is jy Siba?” vra die koning hom.
Hy antwoord: “Ek is u onderdaan.”
3“Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom 'n besondere guns bewys.”
“Daar is nog 'n kreupel seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning.
4“Waar is hy?” vra die koning hom toe, en hy het geantwoord: “Hy is in die huis van Ammiël se seun Makir in Lo-Dabar.”
5Koning Dawid het hom toe laat haal uit Makir se huis in Lo-Dabar. 6Toe Mefiboset seun van Saul se seun Jonatan by Dawid kom, het hy op sy knieë geval voor Dawid en gebuig.
“Mefiboset?” vra Dawid.
“Ek is u onderdaan,” antwoord hy.
7Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou teruggee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet.”
8Hy het weer voor Dawid gebuig en gesê: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan 'n dooie hond soos ek?”
9Dawid het vir Siba die amptenaar van Saul geroep en hom beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek aan sy kleinseun. 10Jy en jou seuns en jou slawe moet vir hom die lande bewerk en die oes insamel sodat daar kos kan wees vir sy huishouding, en sodat hulle kan eet. Maar Mefiboset die kleinseun van Saul sal van nou af by my aan huis eet.”
Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad.
11Hy het die koning geantwoord: “Ek is u onderdaan, ek sal doen net soos die koning my beveel het, en Mefiboset sal by u aan huis eet soos u eie kind.”
12Mefiboset het 'n klein seuntjie gehad wie se naam Miga was. Die hele huishouding van Siba moes vir Mefiboset bedien. 13Mefiboset, wie se voete gebreklik was, het in Jerusalem gebly, want hy het van toe af by die koning aan huis geëet.

Currently Selected:

2 SAMUEL 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy