YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 22

22
Dit is God wat die oorwinning gee
(Vgl. Ps. 18:1-51)
1Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.
2Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,
3my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting,
my toevlug en bevryder.
Van geweld het U my verlos.
4Onder bespotting roep ek na die Here,
dan word ek van my vyande gered.
5Waarlik, golwe van die dood het my omsluit,
strome van onheil het my verskrik.
6Bande van die doderyk het my vasgetrek,
strikke van die dood het my bedreig.
7In my nood roep ek na die Here,
ja, ek roep om hulp na my God.
In sy paleis hoor Hy my geroep.
Ek roep na Hom om hulp,
en Hy luister na my.
8Die aarde het geskud en gebewe,
die fondamente van die hemel het getril en geskud,
want Hy was vertoorn.
9Rook het uit sy neus getrek,
vuur uit sy mond het alles verteer,
gloeiende kole uit sy binneste.
10Hy het die hemel afgebuig en afgekom,
onder sy voete was duisternis.
11Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg;
op die vleuels van die wind het Hy verskyn.
12Hy het Hom in donkerte gehul,
donker waters en wolkemassas was sy bedekking.
13Uit die gloed voor Hom het weerligstrale geblits.
14Die Here het dit uit die hemel laat dreun,
die Allerhoogste het sy stem laat hoor.
15Hy het sy pyle afgeskiet
en die vyand uitmekaar gejaag,
hulle met weerligstrale op loop gejaag.
16Die seebodem het sigbaar geword,
die fondamente van die aarde is blootgelê
deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn.
17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp,
my uit geweldige waters uitgelig.
18Hy het my gered van my vyand wat sterk was,
van my haters toe hulle vir my te magtig was.
19Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby,
maar die Here het my daarvan bewaar.
20Hy het my in vryheid laat uitgaan,
my gered omdat Hy my liefhet.
21Die Here het aan my reg laat geskied,
Hy het my onskuld aanvaar,
22want ek het my aan sy voorskrifte gehou
en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie;
23ek het my deur al sy bepalings laat lei
en nie van sy voorskrifte afgewyk nie.
24Ek was opreg voor Hom,
ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid.
25Die Here het aan my reg laat geskied
want ek was onskuldig in sy oë.
26U betoon U getrou teenoor die getroue,
opreg teenoor die opregte,
27rein teenoor die reine,
maar U verwerp die huigelaar.
28U red die verdrukte volk,
U verneder die trotses.
29U, Here, laat my lamp helder skyn;
my God gee lig as dit donker is om my.
30Met u hulp loop ek 'n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.
31Wat God doen, is volmaak;
wat die Here sê, is suiwer.
Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.
32Waarlik, wie anders as die Here is God?
Ja, wie anders as ons God is 'n rots?
33God omgord my met krag;
Hy maak my pad voorspoedig.
34Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok;
op hoë plekke laat Hy my stewig staan.
35Hy leer my hande om oorlog te maak,
my arms om selfs die stramste boog te span.
36Die redding wat U gebring het,
was vir my 'n beskerming,
deur u hulp het ek sterk geword.
37U het my ruim vastrapplek gegee,
my enkels het nie geswik nie.
38Ek het my vyande agtervolg en ingehaal,
ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie.
39Ja, ek het hulle verpletter,
sodat hulle nie weer kon opstaan nie.
Hulle het voor my voete gesneuwel.
40U het my met krag omgord vir die stryd,
U het my teëstanders voor my laat swig.
41U het my vyande voor my laat vlug
en ek kon my haters uitwis.
42Hulle roep om hulp,
en daar is niemand wat help nie;
hulle roep selfs na die Here,
maar Hy antwoord hulle nie.
43Ek maak hulle fyn soos stof,
ek laat hulle wegspat soos modder in die strate,
ja, ek vermorsel hulle.
44U het my gered van opstandige mense,
my as hoof van vreemde nasies aangestel.
'n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane.
45Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my.
Vreemde volke kruip voor my.
46Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit.
47Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is.
Ek prys my God wat my verlos het.
48Dit is God wat my die oorwinning gee,
wat volke aan my onderwerp.
49Hy red my van my vyande.
Ja, U stel my buite bereik van my teëstanders,
U bevry my van geweldenaars.
50Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here,
tot eer van u Naam 'n lofpsalm sing!
51Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee
en trou aan sy gesalfde betoon,
aan Dawid en sy nageslag vir altyd!

Currently Selected:

2 SAMUEL 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy