YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 10

10
Die Ammoniete beledig Dawid se boodskappers
(Vgl. 1 Kron. 19:1-15)
1Na hierdie gebeure is die koning van die Ammoniete oorlede. Sy seun Ganun het hom opgevolg, 2en Dawid het gedink: “Ek wil met Nagas se seun Ganun op goeie voet bly, want sy pa was my goedgesind.”
Dawid het toe gesante na hom toe gestuur om deelneming te betuig met die dood van sy pa. Toe die gesante van Dawid in die land van die Ammoniete kom, 3het die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun gesê: “Dink u werklik Dawid vereer u vader deur gesante te stuur om met u te simpatiseer? Het hy nie eerder gesante na u toe gestuur om die stad deur te kyk en te verken sodat hy dit kan oorweldig nie?”
4Ganun het toe Dawid se gesante gevat en die een kant van hulle baard afgeskeer, hulle klere net onderkant die heupe afgesny en hulle gelos. 5Dit is aan Dawid meegedeel. Hy het toe boodskappers na hulle toe gestuur, want die manne was baie skaam.
Die koning het laat weet: “Bly voorlopig in Jerigo totdat julle baard gegroei het en kom dan huis toe.”
6Die Ammoniete het geweet dat hulle hulle by Dawid in onguns gebring het. Hulle het toe 'n afvaardiging gestuur en by die Arameërs van Bet-Regob en by dié van Soba twintig duisend voetsoldate gehuur; by koning Maäka het hulle duisend gehuur en by Is-Tob twaalf duisend. 7Toe Dawid dit verneem, het hy Joab met die hele leër gestuur, almal dapper manne. 8Die Ammoniete het uitgegaan en voor die stadspoort stelling ingeneem, en die Arameërs van Soba, Regob, Is-Tob en Maäka was op hulle eie in die oop veld. 9Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem. 10Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.
11Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help. 12Wees dapper en ons sal ook dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind!”
13Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug. 14Toe die Ammoniete gewaar dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abisai gevlug en die stad ingegaan. Joab is toe van die Ammoniete af weg na Jerusalem toe.
Dawid verslaan die Arameërs
(Vgl. 1 Kron. 19:16-19)
15Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle 'n bondgenootskap gesluit. 16Hadad-Eser het naamlik afvaardigings gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat af laat kom. Hulle leër het gekom, en Sobak, die hoof van Hadad-Eser se leër, het die leiding geneem. 17Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak, die Jordaan oorgesteek en by Gelam gekom. Die Arameërs het teenoor hom stelling ingeneem en die stryd aangeknoop. 18Aram het egter vir Israel gevlug. Dawid het sewe honderd man op strydwaens en veertig duisend oorlogsperde van Aram om die lewe gebring. Hy het verder ook vir Sobak, die hoof van hulle leër, so ernstig gewond dat hy daar gesterf het. 19Toe al die konings wat onderhorig was aan Hadad-Eser, besef dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle vrede gesluit met Israel en aan hom onderhorig geword. Die Arameërs was bang om weer die Ammoniete te help.

Currently Selected:

2 SAMUEL 10: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy