YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 8

8
'n Vrou kry haar grond terug
1Elisa het vir die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, gesê: “Maak klaar om te vertrek, jy en jou huisgesin. Gaan bly op enige plek in die buiteland waar jy blyplek kan kry, want die Here het 'n hongersnood van sewe jaar vir hierdie land bepaal, en dit het al klaar begin.”
2Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly. 3Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond.
4Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”
5Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.” 6Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.”
Gasael word koning oor Aram
7Toe Elisa in Damaskus kom, was koning Ben-Hadad van Aram juis siek. Toe hulle hom meedeel dat die man van God daar aangekom het, 8het die koning vir Gasael gesê: “Neem geskenke saam met jou en gaan na die man van God toe. Gaan raadpleeg die Here deur hom of ek van hierdie siekte gesond sal word.”
9Gasael het hom tegemoet gegaan met geskenke van allerhande pragtige Damaskusware, 'n vrag vir veertig kamele. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienswillige, koning Ben-Hadad van Aram, het my na u toe gestuur om te vra of hy van sy siekte gesond sal word.”
10Elisa het vir Gasael gesê: “Gaan sê vir jou koning hy sal nie gesond word nie, want die Here het aan my geopenbaar dat hy sal sterwe.”
11Die man van God het vir Gasael met 'n strak gesig aangekyk totdat hy verleë geword het. Toe het Elisa in trane uitgebars.
12“Waarom huil u?” het Gasael gevra.
Elisa het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Jy sal hulle vestings in vlamme laat opgaan, hulle jongmanne doodmaak, hulle kindertjies verpletter en hulle swanger vrouens oopsny.”
13Maar Gasael het gesê: “Ek het nie enige mag nie, hoe sou ek so iets kon doen!”
Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.”
14Gasael het van Elisa af weggegaan en by sy koning gekom. Dié het hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?”
Gasael antwoord toe: “Hy het vir my gesê u sal lewe.”
15Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf.
Gasael het hom as koning opgevolg.
Joram word koning van Juda
(Vgl. 2 Kron. 21:1-10)
16In die vyfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram seun van Josafat sy pa opgevolg as koning van Juda. 17Hy was twee en dertig toe hy koning geword het, en hy het ag jaar in Jerusalem geregeer.
18Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.
19Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.
20In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel. 21Joram het met sy hele strydwamag opgeruk na Saïr toe. Hy het in die nag die Edomiete aangeval wat hom en sy strydwaoffisiere wou omsingel, maar sy manskappe moes vlug, terug huis toe.
22Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Destyds het Libna ook gerebelleer.
23Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 24Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.
Ahasia regeer oor Juda
(Vgl. 2 Kron. 22:1-6)
25In die twaalfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Ahasia seun van Joram koning van Juda geword. 26Ahasia was twee en twintig toe hy koning geword het en hy het 'n jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Atalia 'n kleindogter van koning Omri van Israel. 27Hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop: hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here net soos die koningshuis van Agab, want hy het ingetrou in die familie van Agab. 28Saam met Joram seun van Agab het hy opgeruk om te veg teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het vir Joram daar gewond. 29Koning Joram het teruggegaan om in Jisreël te gaan herstel van die wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Koning Ahasia van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek waar hy siek gelê het.

Currently Selected:

2 KONINGS 8: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy