YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 7

7
Inwyding van die tempel
(Vgl. 1 Kon. 8:62-66)
1Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. 2Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul. 3Toe al die Israeliete sien dat die vuur en die magtige teenwoordigheid van die Here op die tempel af kom, het hulle op die plaveisel gekniel. Hulle het in eerbetoon gebuig en die Here geloof: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Die koning en die hele volk het vir die Here offerandes gebring. 5Koning Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy. 6Die priesters het op hulle poste gestaan en so ook die Leviete met die instrumente vir die lied tot die eer van die Here. Koning Dawid het die instrumente laat maak om die Here te loof: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” So was die lofsang van Dawid in die Leviete se hande. Regoor hulle het die priesters die trompette geblaas en die hele Israel het daar gestaan.
7Salomo het die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want dit is waar hy die brandoffers en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand het. Op die bronsaltaar wat hy gemaak het, was daar nie plek vir die brandoffers en die graanoffers en die vetgedeeltes nie.
8Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n baie groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou. 9Op die agste dag na die inwyding van die altaar wat sewe dae lank gevier is, het hulle 'n feestelike byeenkoms gehou. Die huttefees daarna het ook sewe dae geduur. 10Eers op die drie en twintigste van die sewende maand het Salomo die volk terug laat gaan huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.
11So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel.
Die belofte en dreigement van die Here
(Vgl. 1 Kon. 9:1-9)
12Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. 13As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. 16En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet.
17“En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, 18sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.
19“Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 20sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. 21Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 22En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

Currently Selected:

2 KRONIEKE 7: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy