YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 2

2
Salomo tref voorbereidings vir die bou van die tempel
(Vgl. 1 Kon. 5:1-18)
1Salomo was van voorneme om 'n tempel vir die Naam van die Here te bou, en 'n paleis vir homself. 2Vir dié doel het hy sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers in die berge aan die werk gesit, met drie duisend ses honderd opsigters oor hulle.
3Verder het hy die volgende boodskap gestuur aan koning Hiram van Tirus: “U het destyds met my vader Dawid 'n ooreenkoms aangegaan en vir hom seders gelewer om vir hom 'n paleis te bou om in te woon. 4Nou wil ek 'n tempel bou vir die Naam van my God, die Here, en dit aan Hom wy. Daar sal ons Hom eer met wierookoffers, met offerbrood wat voortdurend daar is, en met brandoffers, elke môre en elke aand, elke sabbat, elke nuwemaan en elke vasgestelde feestyd van ons God, die Here. Dit is 'n permanente verpligting wat op Israel rus. 5Die tempel wat ek wil bou, gaan groot wees, want ons God is die grootste van alle gode. 6Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom 'n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? En wie is ek eintlik dat ek, behalwe om Hom met offers te eer, vir Hom ook 'n tempel wil bou?
7“Stuur nogtans vir my 'n vakman in die bewerking van goud, silwer, brons en yster en van pers, bloedrooi en blou wol. Hy moet ook vaardig wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne hier by my in Juda en Jerusalem wat deur my vader Dawid gewerf is. 8Stuur vir my verder ook nog seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon af. Ek weet immers hoe vaardig u arbeiders is in die kap van Libanonbome. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk. 9Hulle moet vir my groot hoeveelhede hout regmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en indrukwekkend wees. 10Vir u arbeiders, die boswerkers wat die bome moet kap, sal ek die volgende voedselvoorrade lewer: drie duisend drie honderd ton koring, twee duisend ses honderd en veertig ton gars, vier honderd en veertig kiloliter wyn en vier honderd en veertig kiloliter olie.”
11Koning Hiram van Tirus het Salomo soos volg skriftelik geantwoord: “Dit was 'n liefdesdaad van die Here aan sy volk dat Hy u koning oor hulle laat word het!” 12Verder het Hiram geskrywe: “Geloof sy die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het! Hy het aan koning Dawid 'n wyse seun gegee wat die verstandigheid en insig aan die dag lê om vir die Here 'n tempel te wil bou en vir homself 'n paleis. 13Ek stuur hiermee 'n vakman met die nodige kennis, my meestervakman Hiram. 14Hy is die seun van 'n vrou uit Dan, en sy pa is uit Tirus. Hy is vaardig in die bewerking van goud, silwer, brons, yster, klip, hout, pers en blou wol, linne en bloedrooi wol. Bowendien kan hy enige graveerwerk doen en in samewerking met u en u vader Dawid se vakmanne, enige ontwerp uitvoer wat aan hom voorgelê word. 15As u nou vir ons die koring, gars, olie en wyn stuur soos u onderneem het, 16sal ons al die hout wat u nodig het, in die Libanon kap en dit in vlotte met die see langs vir u na Joppe toe bring. U kan dit dan na Jerusalem toe laat vervoer.”
17Salomo het 'n opname laat maak van al die nie-Israeliete in Israel. Dit was ná die opname wat Dawid, sy pa, reeds van hulle laat maak het. Daar is gevind dat hulle een honderd drie en vyftig duisend ses honderd is. 18Hy het toe sewentig duisend van hulle as draers en tagtig duisend as klipkappers aan die gang gesit in die berge. Daar was drie duisend ses honderd opsigters om die manne aan die werk te hou.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy