YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 22

22
1Dawid het toe gesê: “Die heiligdom van God, die Here, is nou hier by die dorsvloer en hier is ook die brandofferaltaar vir Israel.”
Dawid tref voorbereidings vir die bou van die tempel
2Dawid het die vreemdelinge wat in Israel woonagtig was, bymekaar laat bring en klipkappers aan die werk gesit om messelklippe reg te kap vir die bou van die huis van God. 3Hy het 'n massa yster vir die spykers van die poortdeure en vir kramme gereed gemaak, en ook 'n massa brons, te veel om te weeg. 4Daar was soveel sederhout dat dit nie gemeet kon word nie, want die Sidoniërs en Tiriërs het sederhout in oorvloed aan Dawid gelewer.
5Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en sag, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend groots wees, 'n roem en 'n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek maar vir hom die voorbereidings.”
So het Dawid voor sy dood 'n groot hoeveelheid materiaal gereed gemaak. 6Daarna het hy sy seun Salomo geroep en hom voorskrifte gegee oor die bou van 'n huis vir die Here die God van Israel. 7Hy het vir Salomo gesê: “My seun, ek was van gedagte om 'n huis vir die Naam van die Here my God te bou, 8maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê: ‘Jy het bloed in strome laat vloei en groot oorloë gevoer. Jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy het voor my oë te veel bloed op die aarde laat vloei. 9Jy gaan 'n seun hê wat 'n man van vrede sal wees, want Ek sal hom rus gee van al sy vyande rondom hom. Daarom sal sy naam Salomo wees: Ek sal vrede en kalmte aan Israel gee tydens sy regering. 10Hy sal vir my Naam 'n huis bou. Hy sal vir My 'n seun en Ek vir hom 'n vader wees. Ek sal die troon van sy koninklike heerskappy oor Israel altyd stewig laat staan.’
11“Mag die Here dan nou by jou wees, my seun, en jou voorspoed gee dat jy die huis van die Here jou God kan bou soos Hy beloof het dat jy sal doen. 12Mag die Here jou tog net verstand en insig gee en die nodige opdragte in verband met Israel, dat jy die wet van die Here jou God kan nakom. 13Jy sal voorspoed hê net as jy sorg dra dat die voorskrifte en bepalings wat die Here vir Moses in verband met Israel gegee het, nagekom word. Wees sterk en staan vas. Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie. 14Onder al my swaarkry het ek vir die huis van die Here drie duisend vier honderd sewe en twintig ton goud en vier en dertig duisend twee honderd en sewentig ton silwer opsy gesit, en 'n massa brons en yster, te veel om te weeg. Ek het ook hout en klip gereed gemaak, en jy kan daar nog byvoeg. 15Daar is bowendien 'n menigte arbeiders tot jou beskikking: klipkappers, vakmanne in klip en hout, en allerlei ander vakmanne, bedrewe in enige tegniek. 16Daar is goud, silwer, brons en yster in onberekenbare hoeveelhede. Pak nou die werk aan, en mag die Here by jou wees.”
17Dawid het ook al die gesaghebbers van Israel beveel om sy seun Salomo te help: 18“Was die Here julle God nie by julle nie en het Hy julle nie op alle grense rus gegee nie? Hy het die inheemse bevolking van die land in my mag gegee, en die land is aan die Here en sy volk onderwerp. 19Gee nou hart en siel daaraan om aan die Here julle God gehoorsaam te wees, en begin bou aan die heiligdom van God die Here, sodat die verbondsark van die Here en die gewyde voorwerpe van God ingebring kan word in die huis wat vir die Naam van die Here gebou sal word.”

Currently Selected:

1 KRONIEKE 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy