Parallel
4
1Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig.
Die ark word buitgemaak
Op 'n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek. 2Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent vier duisend man op die slagveld afgemaai.
3Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.”
4Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. Eli se seuns Hofni en Pinehas was ook by die verbondsark van God. 5Toe die verbondsark van die Here in die laer kom, het die hele Israel so hard geskreeu dat die aarde weergalm het.
6Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: “Wat vir 'n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?”
Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het. 7Hulle het bang geword, want hulle het gesê: “God het in die kamp gekom.”
Verder het hulle gesê: “Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie. 8Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae. 9Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!”
10Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was 'n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval. 11Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.
Die dood van Eli
12'n Benjaminiet het van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur, en daar was grond op sy kop. 13Terwyl hy aankom, het Eli juis langs die pad op sy stoel gesit en wag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Die man het gekom en die tyding aan die dorp bekend gemaak. Die hele dorp het begin kerm en kla.
14Eli het die gekerm gehoor en gesê: “Wat skreeu die mense so?”
Die man het gou vir Eli kom vertel. 15Eli was toe ag en negentig jaar. Sy oë was star, en hy kon nie meer goed sien nie. 16Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die slagveld af. Ja, ek het vandag van die slagveld af gevlug.”
En Eli vra: “My seun, wat het gebeur?”
17Die boodskapper antwoord toe: “Israel het gevlug voor die Filistyne, die volk het swaar verliese gely, selfs u twee seuns Hofni en Pinehas is dood; en die ark van God is ook gevat.”
18Toe hy praat van die ark van God, het Eli daar by die poort van sy stoel af agteroor geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was oud en swaar.
Hy was veertig jaar 'n leier in Israel.
19Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en sy was op haar laaste. Toe sy die tyding kry dat die ark gevat is en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy vooroor inmekaargetrek en 'n kind in die wêreld gebring, want die geboortepyne het haar oorval. 20Toe sy wou sterf, het die vroue wat by haar gestaan het, gesê: “Moet jou nie bekommer nie, want jy het 'n seuntjie.”
Sy het egter nie geantwoord of op hulle ag geslaan nie, 21maar die seuntjie Ikabod#Ikabod beteken: “Waar is die eer?” genoem en gesê: “Die eer is weggevat uit Israel.”
Dit het geslaan op die wegvat van die ark van God en op haar skoonpa en haar man.
22“Ja,” het sy gesê, “die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”