YouVersion Logo
Search Icon

Titus 3

3
1Sê baie duidelik vir die gelowiges om te luister na alles wat die owerhede sê. Hulle mag nie in opstand kom teen mense wat in leiersposisies is nie. Hulle moet ook elke kans aangryp wat hulle kry om goed te doen.
2Leer hulle ook om nie van ander mense sleg te praat nie. Hulle moenie moeilikheid soek nie. Nee, hulle moet vriendelik en sensitief wees. Hulle moet met deernis teenoor almal optree.
God se goedheid
het ons lewens verander
3Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig. Haat en geweld was ons meester. Ons het ander mense niks gegun nie.
4Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk: God ons Verlosser het vir ons kom wys hoe lief Hy ons het. Sy goedheid was nie lippetaal nie. Nee, 5Hy het ons verlos. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed geleef het sodat Hy ons moes verlos nie. Nee, Hy het dit gedoen omdat Hy ons baie jammer gekry het.
God het ons heeltemal nuut gemaak. Ons is ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het. Toe is al ons sondes afgewas.
God het ook deur die Heilige Gees nuwe lewe aan ons gegee. 6God het ook nie net ’n klein stukkie van die Heilige Gees aan ons gegee nie. Nee, deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser, het Hy die Heilige Gees in sy volheid oor ons uitgegiet.
7Omdat Hy so goed is vir ons, het Hy al ons sondes afgeskryf. Dit tel nie meer teen ons nie. Ons is nou God se erfgename. Ons erfporsie is die ewige lewe. Ons is volspoed onderweg daarheen.
Praat oor alles
wat God vir ons doen
8Wat ek nou vir jou gesê het, is die waarheid. Ek wil hê jy moet dit met groot oortuiging vir die gelowiges gaan oorvertel. Hulle moet mooi begryp wat God alles vir ons gedoen het. Dit sal hulle aanspoor om reg te leef. As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen. Hulle sal ander begin dien en op die hande dra.
9Titus, nog ’n stukkie persoonlike raad aan jou: moenie in argumente betrokke raak met ander mense wat probeer om ons geloof belaglik te maak nie. Vermy ook ’n stryery met diegene wat sê dat net ware Israeliete deur God gered sal word as hulle oor die nodige geslagsregisters beskik om dit te bewys. Moet ook nie jou tyd mors om met ander te stry oor hoe ons die wet van Moses moet probeer hou nie. Al hierdie gesprekke en argumente help net mooi niks nie. Dis ’n mors van kosbare tyd.
10Loop lig vir daardie mense wat moeilikheid maak. Sê vir hulle om op te hou daarmee. As dit nie help nie, gaan probeer ’n tweede keer. Maar daarna moet jy hulle uitlos. 11Dan weet jy dat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle eie sondes sal op die ou end teen hulle tel.
Groete
12Titus, ek sal binnekort vir Artemas, of dalk vir Tigikus, na jou toe stuur om jou te kom help. Sodra een van hulle daar is, moet jy asseblief vir my kom kuier. Ek bly in Nikopolis oor vir die winter. Kom hiernatoe.
13Daar kom ook twee mans na jou toe oor wie jy jou moet ontferm. Hulle name is Senas, ’n regsgeleerde, en Apollos. Maak jou hart en jou huis vir hulle oop. Kyk dat hulle ’n dak oor hulle kop het en ook iets om te eet.
14Sê ook vir die gelowiges om self te werk vir hulle eie brood. Deur goeie werk moet hulle in hul eie lewensbehoeftes voorsien. Hulle moet soos bome wees wat goeie vrugte vir die Here dra.
15Titus, al die gelowiges hier by my stuur vir jou groete. Sê asseblief ook groete aan al die gelowiges daar by jou.
God se goedheid bly by julle almal.

Currently Selected:

Titus 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy