YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 14

14
Jesus laat sy kerk nooit in die steek nie
1Ek kyk toe weer mooi, en wat sien ek? Op die heilige berg Sion het Jesus, die Lam, gestaan en by Hom was 144 000 mense. Elkeen van hulle het die Naam van die Lam en die Naam van sy Vader duidelik op hulle voorkoppe geskryf gehad.
2Ek het toe iemand uit die hemel hoor praat. Dit het geklink soos ’n geweldige donderstorm met water wat neergiet. Maar die stem het tegelyk soos pragtige musiek geklink. 3Al hierdie mense het die pragtigste lied gesing wat niemand nog ooit gehoor het nie. Voor God op sy troon en die vier lewende wesens en die kerkleiers het die lied opgeklink. Snaaks genoeg kon niemand anders hierdie lied aanleer of sing nie. Dit was spesiaal net vir die 144 000. God het hulle mos vrygekoop van dit wat hulle op die aarde gebind het.
4Hierdie mans het nie onsedelik saam met vroue geleef nie. Hulle is rein. Hulle het die Lam gevolg net waar Hy gegaan het. God het hulle eerste uit al die mense sy eiendom gemaak. Hulle is die eerstes van nog baie ander wat aan God en die Lam gaan behoort.
5Hulle het ook nooit vir enigiemand gelieg nie. Teen hulle is daar niks te sê nie.
God se oordeel is daar
6Toe sien ek nog ’n ander engel wat bo my tussen die wolke vlieg. Die engel het oorgeloop van die goeie nuus van God en wou dit vir almal vertel. Dit is die nuus wat vir ewig en altyd goed sal bly. Die engel moes sorg dat al die mense op die aarde dit hoor, maak nie saak wie dit is of waar hulle bly nie. 7Daarom het die engel hard geskree sodat almal dit kon hoor: “Betoon respek vir God, want vir Hom moet julle ontsag hê.
“Maak Hom groot, want die tyd is hier dat mense voor God gaan verskyn om te hoor wat sy oordeel oor hulle is.
“Aanbid Hom! Hy het die hemel gemaak. Die aarde met die see en fonteine het Hy met sy hande gemaak.”
8Dit was skaars verby of ’n tweede engel was daar: “Dit is klaarpraat met Babilon, die stad vol sondige mense; ja, die grote Babilon is verby! Sy wou mos al die mense forseer om soos sy te leef asof God nie bestaan nie. So, sonder God, het hulle geleef soos mense wat hulle dronk drink.”
9’n Derde engel kom toe en skreeu net so hard: “As iemand die dier met sy standbeeld aanbid en die dier se merk op sy voorkop of hand dra, sal hy ’n ander soort wyn drink; die wyn van God se straf. 10God se woede en ontevredenheid sal wees soos ’n glas wat vol wyn gegooi word. Die mense wat aan die dier behoort, sal dit dan moet drink, of hulle wil of nie! Dit sal wees soos iemand wat in ’n verskriklike warm vuur baie seer brand. Die engele en die Lam sal staan en kyk hoe dit gebeur. 11Die vuur se rook sal wys hoe seer hierdie mense brand. En dit sal nooit einde kry nie. Die arme mense wat die dier aanbid en met hom gespog het deur sy merk te dra, gaan baie swaarkry. Hulle sal dag en nag die ondraaglikste pyn moet verduur.
12“Die mense wat aan God behoort, moet net vasbyt. Hulle moet op die regte pad bly. Hulle moet gehoorsaam doen wat God van hulle verwag en aan Jesus Christus getrou bly.”
13Toe hoor ek ’n stem uit die hemel: “Skryf! Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar! sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes. God self weet dit baie goed.”
God se oordeel is vernietigend
14’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het.
15Skielik het ’n ander engel sy opwagting gemaak. Die engel het uit die blyplek van God gekom en hard geskree vir die Man wat op die wolk sit om te hoor: “Steek u sekel in. Maak die oes bymekaar. Die oestyd is hier, want die oes op die aarde is ryp.”
16(Natuurlik het die engel van die oordeel gepraat.)
Die Man op die wolk maak toe so. Hy het sy sekel ingesteek en die hele aarde afgeoes.
17En nog ’n engel het uit die blyplek van God in die hemel verskyn. Hy het ook so ’n skerp sekel gehad. 18Skielik was daar nog een wat uit die rigting van God se altaar gekom het. Hy was in beheer van die vuur. Hy skree toe hard vir die engel met die sekel sodat almal kon hoor: “Steek jy ook jou sekel in! Sny die druiwetrosse van die wingerde op aarde af. Die druiwe is ryp.” (So begin die oordeel.) 19Die engel het nie op hom laat wag nie en het op die aarde begin oes. Wat geoes is, is saam in ’n groot houer gegooi. In hierdie houer is die druiwe stukkend getrap. 20Hierdie houer kan vergelyk word met die woede en straf van God oor die sonde. So vreeslik was dit dat dit nie in die stad waar die mense gebly het, gedoen is nie. Die bloed het oor die houer gestroom. Die stroom bloed was so diep dat dit tot by die middellyf van ’n man gekom het. Hierdie stroom bloed het 300 kilometer ver geloop.

Currently Selected:

Openbaring 14: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy