YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 11

11
God se Woord raak nooit
stil nie, daarvoor sorg Hy self
1God gee toe vir my ’n liniaal. “Staan op. Gaan meet die tempel van God, altaar en al. Tel die mense wat besig is om God te aanbid. Skryf dit neer sodat daar presies onthou sal word hoe dit gelyk het. 2Moenie die plein buite die tempel meet nie. Los dit maar. Dit gaan vir al die ongelowiges wat God nie dien nie, gegee word. Niemand sal dit onthou nie. Hulle gaan hier in die heilige stad instroom en alles vertrap. Dit gaan darem net ’n beperkte tyd van 42 maande wees.
3“Intussen sal Ek twee mense stuur wat die waarheid oor My praat. Hulle sal eenvoudig aantrek soos die profete van ouds wat die volk op die regte pad wou hou. Hulle sal 1 260 dae lank (42 maande) vir die mense van My vertel. Dit is darem nie te lank nie.” 4Hulle kan vergelyk word met twee olyfbome en twee kandelare. Die olyfbome gee die olie sodat die kandelare altyd kan brand: dit laat ’n mens dink aan hoe die Gees werk. Hulle staan voor God wat oor die hele aarde heers. 5As iemand hulle probeer seermaak of benadeel, kom daar vuur uit hulle monde uit. Die vuur verskroei natuurlik al wat vyand is, net soos in Elia se tyd. So word hulle vyande vernietig. 6Hulle kan ook keer dat daar ’n druppel reën val solank hulle die mense van God vertel. Soos Moses van ouds kan hulle die water oral ondrinkbaar maak. Hulle verander dit in bloed. Hulle kan ook - as hulle natuurlik wil - die aarde en die mense met allerhande plae tref.
7Hulle sal van God preek tot God besluit dit is genoeg. Dan sal ’n oorlog teen hulle losbrand. Die bose dier sal uit die bodemlose onderaardse diepte uitkom en woes teen hulle veg en wen. Hy sal hulle doodmaak 8en die lyke net daar in die strate van die groot stad Jerusalem laat lê. Niemand sal dit eens begrawe nie. Dis mos ’n skande! Hierdie stad is net so boos soos Sodom van ouds. Soos mense destyds in Egipte onderdruk en sleg behandel is, doen hulle dit nou hier in Jerusalem ook. Ja-nee, dit is mos die einste stad waarin hulle Here ook aan die kruis doodgemaak is. 9Mense van oral af sal die lyke daar in die straat bekyk. Hulle wou die lyke mos nie begrawe soos dit hoort nie. Dit sal drie en ’n halwe dae so aanhou. 10Wat nog erger is, is dat daar feeste sal uitbreek. Mense oor die hele wêreld kan hulle blydskap nie in toom hou nie! Hulle gee vir mekaar geskenke, die ene vrolikheid! Die rede vir al die opgewondenheid is die lyke in die straat. Daardie boodskappers van God het immers die mense se gewete baie omgekrap en hulle skuldig laat voel.
11Drie en ’n halwe dae het verbygegaan. Toe gryp God in en gee die asem wat lewe gee vir hulle terug. Die twee boodskappers van God kom toe weer regop. Die mense wat dit gesien het, het hulle asem weggeskrik. Hulle het soos riete gebewe, so bang was hulle. 12Iemand uit die hemel praat toe helder en duidelik met die twee boodskappers van God: “Kom hiernatoe.” Voor die oë van hulle vyande is die twee boodskappers in ’n wolk na God toe. 13Toe begin die hele aarde geweldig skud. ’n Tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense is in die aardbewing dood. Die mense wat in die stad oorgebly het, was paniekbevange. Hulle het daar en dan vir God grootgemaak en alle eer aan Hom gegee. 14Die tweede verskrikking was nou verby. Maar oppas! Die derde verskrikking is op pad, en vinnig ook!
Lofsange en ’n geopende hemel
15Toe blaas die sewende engel op sy trompet. ’n Geweldig harde stem uit die hemel sê toe: “Ons Here en sy Messias regeer nou oor die wêreld. Almal weet dit! Hy sal vir ewig en altyd bly regeer.”
16Die 24 leiers van die kerk (wat op die trone in die hemel gesit het) het eenvoudig voor God neergeval 17en Hom aanbid:
“Here God, vir wie anders kan ons dankie sê as maar net vir U? Niemand is so sterk soos U en kan doen wat U doen nie. U is nou daar soos U nog altyd daar was. U gebruik die groot krag wat U het en U regeer.
18“Mense wat U nie dien nie probeer uit woede teen U wal gooi. Dit is tevergeefs, want U gaan hulle hulle verdiende straf gee. Die tyd het gekom om almal wat al dood is deur God se oordeel te laat toets. Ja, die tyd vir God se groot prysuitdeling is op hande: die mense wat Hom getrou gedien het, sal Hy beloon. Sy boodskappers en al die ander mense wat aan Hom behoort, sal nie oorgesien word nie.
“Of iemand nou belangrik of onbelangrik is, as hy God as God erken en gerespekteer het, nooi God hom na sy prysuitdeling uit.
“Die tyd is ook daar dat God die mense sal vernietig wat in hulle eie lewe net ’n pad van vernietiging agtergelaat het.”
19Toe skuif die deure van God se tempel in die hemel oop. Die ark, wat die teken van God se ooreenkoms met sy mense is en waar God spesiaal teenwoordig is, het in die tempel gestaan, oop en bloot vir almal om te sien. Weerligstrale het geslaan en die donder het gedreun. Groot haelstene het geval en die aarde het gebewe.

Currently Selected:

Openbaring 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy