YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 1

1
1Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief.
Dit is so: God het vir Jesus Christus gewys wat alles in die geskiedenis voorlê. Op sy beurt moes Hy dit wys vir mense wat Hom dien. Dit het Hy gedoen deur ’n engel na sy dienaar, Johannes, te stuur.
2Hier volg nou Johannes se presiese weergawe van daardie boodskap van God. Jesus Christus self staan in vir die waarheid daarvan. Johannes het alles wat hy deur visioene gesien het, mooi neergeskryf. 3Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie.
’n Brief van God af vir julle
4Ek, Johannes, skryf aan die sewe gemeentes in Asië (daar in Wes-Turkye).
Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie.
Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees.
Die goeie wense kom ook van die Heilige Gees af wat sorg dat alles gedoen word wat God as Heerser wil hê. 5En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie.
6Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker.
7“Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees!
8“Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles.
Die Seun van God wat dood was, maar nou leef
9Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel.
10Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek. 11“Skryf alles wat jy sien en beleef letter vir letter in ’n boek neer. Stuur dit dan aan die volgende sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
12Ek draai toe versigtig om om te sien wie so met my praat. Met die omdraai val my oog op sewe kandelare. Hulle was baie werd, want hulle was van goud gemaak. Hierdie kandelare, sou ek agterkom, is eintlik die sewe gemeentes aan wie ek skryf. 13Tussen hierdie kandelare het ek Iemand sien staan. Dit het vir my gelyk soos die Seun, die Een wat van God af sou kom om finaal te kom sê wat God oor die mense besluit het. Hy het pragtige klere aangehad, soos dié wat belangrike mense dra. Soos die heel belangrikste priester van ouds het hy goud om sy bors gedra. Dit het gewys hoe belangrik Hy regtig is. 14Sy wysheid kon ’n mens sien aan sy spierwit hare. Dit was ook duidelik dat niemand iets vir daardie gloeiende oë kon wegsteek nie. 15Sy voete was soos warm geelkoper wat net uit die oond gekom het. Waar daardie voete trap, bly niks oor nie! Wanneer Hy praat, is dit oorverdowend, soos baie harde reën op ’n sinkdak. Mense se stem verdof eenvoudig. 16-20In sy regterhand het Hy sewe sterre gehou. Die sterre is die leiers van die sewe gemeentes wat moes sorg dat dit in die gemeentes gaan soos Jesus dit wil hê. Uit sy mond het ’n swaard gekom. Dit was aan al twee kante vlymskerp. Waar sy oordeelswoorde moet sny, sal dit kan sny! En die oorwinning en glans op sy gesig - dit was soos die son wat op sy helderste skyn.
Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek het mos gesterf, maar lyk Ek vir jou dood? Nee, Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit. Ek besluit wie bly dood en wie nie.
“Toe, Johannes, skryf neer wat jy sien en ervaar. Jy sal dinge sien wat nou aan die gang is en dinge wat nog voorlê.”

Currently Selected:

Openbaring 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy