YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 19

19
1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal.
Sy eer is oral in die lug opgeteken.
In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.
3Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.
Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.
4Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.
Hulle boodskap word versprei sonder klanke.
5Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.
Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,
is vol van sy eer.
As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.
6Hy het die son soos ’n lig daarin opgehang om helder te skyn.
Wanneer die son in die môre helder opkom, lyk hy soos ’n gelukkige bruidegom wat na die eerste nag by sy bruid met ’n glimlag by die huis uitstap.
Sy gesig straal.
Die son is so sterk en dapper soos ’n oorlogsheld
wat sy taak vir die dag vol moed aanpak.
7Hy begin met sy werk aan die een kant van die wêreld en loop heeltemal om tot by die ander punt.
So straal die son sy hitte op elke millimeter van die wêreld uit.
8So werk die Here se wet ook. Daar is geen foute in nie.
Soos die son oor alles skyn, so speel die wet ’n rol in ons hele lewe.
Dit bring nuwe krag in jou lewe.
Jy kan altyd op die wet staatmaak.
Dit is betroubaar,
want dit leer mense wat nog nie ervaring het nie hoe om gelukkig te lewe.
Die Here wil hê mense moet die regte dinge doen.
Dan sal hulle vol blydskap wees.
9Die Here se opdragte is baie duidelik. Dit leer jou watter pad die regte een is.
En dit maak jou bly as jy op die regte pad loop. As jy die Here dien, bly verkeerde dinge ver van jou af weg.
Wat die Here sê, laat jou gesig skitter.
10Die Here verwag dat sy kinders na Hom moet luister. God se wet geld vir altyd.
Dit wys ons hoe om te leef soos God wil hê. Wat Hy sê, is reg. Sy woorde leer jou om reg en regverdig te lewe.
11Wat God wil hê, is vir jou lewe kosbaarder as goud; dit is baie meer werd as ’n hele hoop suiwer goud.
Om God se wil te doen bring groter vreugde as die soetste heuning wat daar is.
12Elkeen wat U dien, leer uit u wet.
Iemand wat u wet gehoorsaam, se lewe is vol en ryk.
Hy word oor en oor daarvoor beloon.
13Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd doen nie.
Here, vergewe al my foute waarvan ek nie weet nie, wat ek gedoen het sonder dat ek besef het hoe verkeerd dit is.
14En keer my as ek van plan is om opsetlik verkeerde dinge te doen.
Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie.
As U my help, sal ek sonder foute wees.
Dan sal ek nie aanhou om oor en oor die verkeerde dinge te doen nie.
15Ek hoop U sal bly wees oor alles wat ek sê en dink.
Here, ek wil U baie graag bly maak, want U pas my baie goed op. U verlos my!

Currently Selected:

Psalms 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy